Oudtshoorniet stap self ambulans toe na voertuig rol en stamp teen kop

’N INWONER van Oudtshoorn kon Sondag (2 Augustus 2020) nog self met hulp na die ambulans stap nadat sy voertuig op die Welgeluk-pad buite Oudts­hoorn gerol en hy verskeie beserings opgedoen het.

Daniel Smith was volgens sy broer, die tandarts dr Cobus Smith, op pad Mosselbaai toe, toe sy Mitsubishi Pajero net voor 17:00 gerol het.

Hy is per ambulans hospitaal toe geneem en is hy die volgende oggend ontslaan.

Na verneem word het hy kop-, skouer- en ribbeserings opgedoen
“Ons dink die linkervoorband van sy voertuig het gebars, en dat hy toe as gevolg daarvan beheer oor die voertuig verloor het,” het dr Smith gesê.

Volgens dr Smith het sy broer waarskynlik tydens die ongeluk ’n stamp teen die kop gekry, en kon hy nie mooi onthou wat gebeur het nie.

Hy sê Daniel het geen operasies nodig gehad nie, en hy is die Maandag uit die hospitaal ontslaan met slegs ’n spalk om sy skouer.

“Hy het eintlik baie goed van die ongeluk afgekom.” (Deur Stefan Skapie Goosen)