‘ Laat sy respek vir sy medemens as ’n monument voortleef ’

Die Lutherse blaasorkes begelei in reënweer die stoet vanaf die kerk.
Foto’s: Garnett Wicomb

“DIE onsigbare virus het ons beroof van ’n man wat sy lewe vir geregtigheid gegee het.”

So het ds Lionel Louw Dinsdag tydens ’n gedenkdiens vir dr David Arthur Piedt (80) in die Volkskerk van Afrika op Oudtshoorn gesê.

Verskeie huldeblyke is tydens die drieuurlange diens gelewer, waartydens die direksievoorsitter van die KKNK, Crispin Sonn, as programleier opgetree het.

Stephan Sass het namens die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) hulde gebring en gesê dat Piedt die beste vir laaste gehou het toe hy die vereniging gestig het om voorheen benadeelde staatsamptenare te probeer help.

Piedt se dogter, Tracey Volcke, wat Vrydag vanaf België in Suid-Afrika aangekom het, het gesê dat sy haar pa sal onthou vir sy liefde vir God.

“Dankie, Pa, dat jy ons geleer het om hard te werk en te staan waarin jy glo.

Ek is wat ek is danksy jou.”

Volgens haar het haar pa haar ook gevra om ’n aanwins vir haar nuwe familie te wees toe sy getrou het.

“Ek is baie trots op die lewenslesse wat my pa my geleer het.”
Jonathan Wicomb het namens die Volkskerk Piedt bedank vir sy onuitwisbare nalatenskap.

“David was baie lief vir sy kerk en het ’n groot bydrae tot die kerk se vooruitgang gelewer sonder om erkenning daarvoor te wou hê.

“Ons gemeentevergaderings sal nooit weer dieselfde wees nie.

“Wanneer David gepraat het het almal geluister. Hy was ’n formidabele mens. ’n Groot seder het in Oudtshoorn, die Suid-Kaap en Suid-Afrika geval.”

Dr Franklin Sonn, wat dekades lank met Piedt bevriend was, het in sy huldeblyk ’n beroep op die aanwesiges en almal wat die diens digitaal gevolg het, gedoen om Piedt se respek vir sy medemens as ’n monument te laat voortleef.

Hy het Piedt namens die eertydse Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO) bedank vir sy menswaardigheid.

Ds Louw het sy boodskap na aanleiding van die riglyne van ’n Miga gebring, naamlik om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en nederig en bedagsaam met God om te gaan.

“Dit is wat David gedoen het. Hy het die lewenswaardes van Jesus as syne geneem.”

Alco Isaacs het namens die Piedt-familie, Alroy Oliphant namens die Oliphant-familie en Hugo Theart namens die KKNK hulde aan Piedt gebring. (Deur Garnett Wicomb)