Die seun met die 2 fietswiele

DIT het alles verlede Vrydag (31 Julie 2020) begin toe Damian Ewerts van Bongolethu ’n voormalige spea­ker en wykraadslid van Oudts­hoorn, Japie Coetzee, by sy hek ingewag het met twee fietswiele in sy hande.

“Sy versoek was eenvoudig: hy soek ’n raam sodat hy vir hom ’n fiets aanmekaar kan sit en sy droom van ’n eie fiets waar kon word,” vertel Coetzee.

Coetzee sê hy was so beïndruk met die seun se opregtheid en sy hartsbegeerte dat hy sonder om daaroor te dink die seun huis toe gestuur het met die belofte dat hy weer die Maandag moet kom vir ’n raam of moontlik ’n fiets.

Hy het onmiddellik die seun se storie op sy Facebook-blad geplaas en genoem dat hy R500 sou bydra vir ’n fiets en ander bydraes sal verwelkom. Nog voordat daar reaksie van bydraes was, het hy die Saterdag-oggend vroeg egter ’n boodskap van ’n fa­milielid ontvang met die versoek dat hy nie verder moet soek nie, want die geld vir ’n nuwe fiets is reeds oorbetaal.

Die familielid het gevra om ano­niem te bly.

Dié hele storie het Coetzee so ge­raak dat hy onmiddellik met ’n projek, Toy for Joy, weggespring het.

“Ek wil ’n beroep doen op die ge­meenskap om alle speelgoed wat nie meer gebruik word nie, te gaan soek en vir my te gee. “Ek sal dit weer mooi maak en dan op Kersdag aan kinders gee wat nie ’n speelding van Kersvader gaan kry nie.

Coetzee sê hy besef dat Kersgeskenke vanjaar – in die lig van Covid-19 wat so baie mense werkloos gelaat het asook as gevolg van algemene armoede onder mense – ’n geweldige uitdaging sal wees.

“Ek is bereid om speelgoed by huise te kom oplaai of anders kan dit sommer by my huis te Rosseaustraat 20 afgegee word.”

Coetzee se kontaknommer is 082 598 7273.

“Daar is baie kinders wat hierdie Kersfees net met die wiele gaan staan en net ’n raam soek.

“By voorbaat dankie! Ek weet dat die gemeenskap ’n suksesvolle projek gaan verseker!”

Die Hoorn steun hierdie projek ten volle. Kom, Oudtshoorn, ons gee vir soveel moontlik van ons kinders vanjaar ’n Kersgeskenk!