SAMESPREKINGS die afgelope weke tussen die vier partye wat sedert Dinsdag Oudtshoorn saam regeer, die DA, Icosa, Sarco en die EFF, was nie maklik nie, het die dorp se nuwe burgemeester, Chris Macpherson (DA) Woensdag (5 Augustus 2020) by ’n perskonferensie op die dorp gesê waar hy sy burgemeesterskomitee bekend gemaak het.
“Ek haal my hoed af vir die ander politieke partye wat saam met ons om die tafel sit. Dit was ook nie vir hulle maklik nie. Dankie ook aan die DA-koukus wat die besluit ter wille van die dorp geneem het.
“Ons het hier ’n unieke geleentheid gehad waar vier politieke partye bymekaargekom het ter wille van die groter welsyn van die Groter Oudtshoorn, en besluit het: Kom ons regeer saam.”
Macpherson het gesê die groep sien nie kleur raak nie en wil al die mense van die dorp dien.
“Elkeen in die dorp se lewe maak saak. Elke inwoner moet oor dieselfde kam geskeer word. Ons sal wil seker maak dat die wat het, hul hande uitreik na die wat nie het nie.”
Gaven Juthe (Sarco), die Groter Oudtshoorn se nuwe onderburgemeester, het verwys na die lied met die woorde: There is a race to be run, there are victories to be won, en gesê dit is sy gebed vir Oudtshoorn.
Hy het die voormalige onderburgemeester, Noluthando Mwati (DA), bedank vir haar uitstekende werk terwyl sy onlangs as burgemeester waargeneem het, en ook vir haar bereidheid om terug te staan as onderburgemeester en so die veelpartykoalisie moontlik gemaak het.
“Ons hoop eerlik haar opoffering was nie verniet nie en dat ons nou die resies tot die beste van ons vermoë kan hardloop. Die klem moet nou daarop val om kwessies soos werkloosheid, mense sonder blyplek en die agteruitgang van infrastruktuur te takel.”
Mwati het op haar beurt gesê sy glo die samewerking tussen die vier partye is die begin van nuwe dinge vir Oudtshoorn. Sy het met verwysing na beledigings wat Dinsdag na van die ander partye geslinger is – soos dat hulle hul partye uitverkoop het – gesê die spanning waardeur Oudtshoorn se raad die afgelope drie maande is, mag nie ontken word nie
“Vier raadslede het hul rûe op ons gedraai en daarom was al opsie vir ons as DA-raadslede om met opposisiepartye te begin praat.”
Sy het ook gesê dat sy dit duidelik wil stel dat sy vrywillig besluit het om as onderburgemeester te bedank.
“Ek is hier om tot voordeel van die gemeenskap op te tree.
“Ek hoop God sal in hierdie vennootskap werk tot voordeel van die dorp.”
Vlancio Donson (Icosa), die nuwe burgemeesterskomiteevoorsitter vir tegniese dienste, het sy party bedank vir hul steun en gesê as deel van die regerende groep in die raad sal dit makliker wees vir hom en sy party om inwoners se probleme aan te spreek.
Johan Fourie (DA), die nuwe voorsitter vir gemeenskapsdienste, het bevestig dat die afgelope drie maande baie stresvol was vir almal.
“Ons het met een doel voor oë begin onderhandel: om dienslewering in Oudtshoorn weer tot sy reg te laat kom.
• Die aanstelling van ’n waarnemende munisipale bestuurder in die plek van Allen Paulse is bo-aan die lys van aangeleenthede wat dringend aandag benodig, het Macpherson ook gesê.
Volgens hom het die direkteur finansies, Gerald de Jager, ingestem om waar te neem, maar sal die Wes-Kaapse re-gering nou genader word om tydelik ’n waarnemende direkteur finansies in sy plek na Oudtshoorn te stuur asook ’n direkteur tegniese dienste aangesien die pos ook vakant is. (Deur Liesel le Roux)