DIE Groter Oudtshoorn staan sedert ’n raadsvergadering Dinsdag (4 Augustus) onder die beheer van ’n veelpartyregering nadat die DA ’n samewerkingsooreenkoms met Icosa, Sarco en die EFF aangegaan het om ’n nuwe burgemeester en onderburgemeester vir die dorp te verkies.
Dié samewerkingsooreenkoms volg nadat die DA weens interne verdeeldheid tussen DA-raadslede die laaste maande verlam was en geen besluite deur die party geneem kon word nie.
Oudtshoorn se nuut verkose burgemeester, Chris Macpherson, het Woensdag by ’n perskonferensie bevestig dat vier DA-raadslede, Ewa Fortuin, Nellie Soman, Hendrik (Stokkies) Ruiters en Henry Human, nie saam met die ander DA-raadslede wou werk nie. Dié vier raadslede ondersteun blykbaar die voormalige burgemeester, Colan Sylvester, en was na wat verneem word ook geruime tyd betrokke by gesprekke met die ANC oor samewerking.
Fortuin, Soman en Ruiters wat tot Dinsdag lede van die burgemeesterskomitee was, het Woensdag hul portefeuljes verloor toe Macpherson hulle nie weer as lede van sy burgemeesterskomitee aange-wys het nie.
So verloop verkiesing van ampsdraers
Macpherson, die DA se kandidaat vir die burgemeesterskap, het by Dinsdag se raadsvergadering die kandidaat wat die ANC voorgestel het, Charoldine Cobus, met 11 stemme teenoor 7 verslaan, terwyl een stembrief bedorwe was.
Gaven Juthe van Sarco is daarna verkies tot nuwe onderburgemeester nadat die DA se Noluthando Mwati by die vergadering as burgemeester bedank het en gesê het sy doen dit “in die belang van die inwoners van die Groter Oudtshoorn”.
Juthe, ’n ervare munisipale amptenaar met de-kades van diens totdat hy in 2016 tot raadslid verkies is, is met 13 stemme teenoor die 6 vir Jongilizwe Tyatya, wat deur die ANC voorgestel is, tot onderburgemeester verkies.
Van die ANC-raadslede was ná Juthe se ver-kiesing sigbaar ontsteld deur die verloop van die vergadering.
Raadslid Galvin Gertze wou weet – terwyl ander raadslede vir Macpherson met sy verkiesing geluk gewens het – “wie uit die EFF, Icosa en Sarco” het vir Macpherson as burgemeester gestem.
“Wat het julle vir die EFF, Juthe en Donson beloof?” het hy ook gevra.
Ook die ANC-raadslede Tyatya en Nondumisa Magopeni het die bedanking van ’n swart vrou om vervang te word deur ’n bruin man gekritiseer.
Vlancio Donson (Icosa) het hierop die ANC versoek om “rassisme in die raadsaal te stop” en gesê Juthe se kundigheid kan baie vir die raad beteken.
“Dit gaan nie hier om ’n sekere ras te bevorder nie, maar oor die mense van Oudtshoorn.”
Juthe het op sy beurt gesê hy wil die breë gemeenskap versoek om by politiek verby te beweeg en te help om die dorp vorentoe te neem.
“Die gemeenskap se belange is ons belange. Daarom bied ek my kennis aan vir hierdie dorp. Dankie aan die DA dat u as party bereidheid aanvaar het om ’n hand uit te steek na ander. Ons dorp ly, ons dorp kry swaar as ons dink hoe afgeskeep ons tans is teenoor die omliggende gebiede.”
• Macpherson het in sy aanvaardingstoespraak gesê dit is belangrik dat mense nou hand uitsteek en begin saamwerk. “Ek gaan elkeen se hand nodig hê om hierdie wa deur die drif te trek. Ons nooi die hele dorp om hand uit te steek en te help.
“Dit is nou die tyd vir Oudtshoorn om op te staan en dit gaan van elke raadslid afhang watter voorbeeld ons stel.”
So lyk nuwe burgemeesterskomitee
Die Groter Oudtshoorn se voormalige onderburgemeester, Noluthando Mwati, is Woensdag aangewys as een van die lede van Macpherson se burgemeesterskomitee toe sy aangestel is in die nuwe portefeulje van behuising. Die ander raadslede in die burgemeesterskomitee is Icosa se Barbara Owen wat die leiding sal neem by kor- poratiewe dienste en Vlancio Donson by tegniese dienste, terwyl die DA se George Kersop die portefeulje van finansies behou en Johan Fourie aangestel is om die leiding te neem by gemeenskaps- dienste.
Macpherson het gesê Diswayne Maarman van die EFF sal aangestel word as voorsitter van die munisipaliteit se openbare rekeningekomitee (MPAC).
Politieke partye reageer
Eleanore Bouw-Spies, DA-kiesafdelingshoof van Oudtshoorn, het gister in ’n persverklaring gesê die verkiesing van Macpherson as burgemeester volg ná ’n “onstuimige tyd” op Oudtshoorn sedert Sylvester in Junie bedank het.
“Die verkiesing van Chris gee nuwe hoop aan inwoners van Oudtshoorn en ons is vol vertroue dat hy en sy span sal herbou.”
Sy het die koalisievennote bedank omdat hulle Oudtshoorn eerste geplaas het, en gesê die DA glo dat Macpherson en sy span hard sal werk om die vertroue van inwoners terug te wen. Sy het ook Mwati bedank vir haar “buitegewone opoffering” om die veelpartysamewerking moontlik te maak.
Dawid Kamfer, provinsiale voorsitter en nasionale woordvoerder van Icosa, sê die party het besluit om met die DA saam te werk omdat niks bereik is met vier jaar se gesprekke tussen Icosa en die ANC nie. “Hulle was ook nooit bereid om met Icosa se leierskap te praat nie en ons ervaar dit as disrespekvol. Icosa is ’n onafhanklike party en behoort aan niemand nie. Ons sal ons nie laat boelie deur ’n groter party nie. Icosa sal met enigiemand saamwerk wat bereid is om die belange van die kiesers op die te hart dra. Ons sal ook seker maak dat aandag geskenk word aan enige korrupsiesaak en dat skuldiges aan die pen sal ry.”
Hy het gesê Icosa vind dit vreemd dat die party nou gekritiseer word oor samewerking met die DA terwyl niemand iets gesê het oor die samewerking tussen die ANC en DA in Kannaland nie. (Deur Liesel le Roux)