Hospitaalaanval: Saak begin vandag

’n VOORMALIGE werknemer van die Mediclinic Klein Karoo, wat van poging tot moord op ’n 18-jarige meisie aangekla word, verskyn weer vandag (9 Maart) in die Oudtshoorn Streekhof.

Christina Johanna Boshoff het glo op 25 Augustus 2021 die meisie, wat ’n pasiënt was, met ’n skerp voorwerp op die been en gesig gesny.

Volgens ao Gretchen Michaels, polisiewoord­voer­der, het die verdagte die betrokke aand omstreeks 19:00 die saal binnegegaan waar die pasiënt gelê het en haar gesny.

Sy het op 30 Augustus 2021vir die eerste keer in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat. Die saak is daarna van die hofrol verwyder, maar toe weer laat verlede jaar terug op die hofrol geplaas vir verhoor.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak op versoek van Boshoff se regshulpprokureur, Brian Carelse, vir ’n laaste keer tot vandag uitgestel omdat gewag word vir verslae ten opsigte van haar geestestoestand. (Deur Garnett Wicomb)