Bredell gelas dat aanstelling van munisipale bestuurder van voor af moet begin

DIE Groter Oudtshoorn-raad gaan opnuut met die voorgeskrewe proses moet begin om ’n munisipale bestuurder aan te stel as gevolg van ’n oorsig rond­om munisipale wetgewing.

Die raad het Walter Hendricks einde 2022 as munisipale bestuurder aangestel nadat die aansoekers vir die pos deur ’n paneel geëvalueer is.

Volgens Aurelia Mle, munisipale woordvoerder, is daar tydens die samestelling van dié aanwysingspaneel verlede jaar besluit om ’n veelpartypaneel saam te stel sodat die opposisie ook deel van die proses kon wees.

Klaarblyklik het dit daartoe gelei dat drie raads­lede op die betrokke aantellingspaneel gedien het, en nie net twee soos die betrokke wetgewing aandui nie.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike rege­ring, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, An­ton Bredell, het die raad intussen in kennis ge­stel dat die samestelling van die aanstellingspaneel nie aanvaarbaar is nie en gelas dat die aansoek- en aan­stellingsproses van ’n munisipale bestuurder van voor af moet plaasvind.

Bredell het glo in ’n skrywe aan die raad uitgewys dat drie raadslede op die paneel gedien het terwyl munisipale wetgewing voorskryf dat net twee raadslede, die burgemeester en nog ’n raadslid, op so ’n paneel mag dien. Dit maak die aan­stelling van Hendricks as munisipale bestuurder onreëlmatig is.

Mle sê die raad het Hendricks intussen as waar­nemende munisipale bestuurder aangestel totdat die proses weer voltooi is. Die pos is reeds weer geadverteer vir aansoeke.