Kerk te klein vir begrafnis van tref-en-trap-slagoffer

Daar was groot harsteer tydens die begrafnis van Pietro Klaassen. Foto: Garnett Wicomb

DIE 24-jarige tref-en-trap-slagoffer Pietro (Pietie) Klaassen is Saterdag vanuit die Immanuel Pink­ster Protestante Kerk in die Askamp in Bridgton, Oudts­hoorn ter ruste gelê, terwyl die bestuurder van die voertuig wat hom die vorige Saterdag in Dassieweg getref het, steeds nie na vore gekom het nie.

Die kerk was stampvol familie en vriende van Klaassen, die pa van ’n vierjarige dogtertjie.
Talle begrafnisgangers moes die diens van buite die kerk volg.

Klaassen is op 25 Februarie oorkant die vol­struis­abbatoir raakgery waarna die bestuurder van die motor glo weggejaag het. Hy is met sy aan­koms per ambulans by die Oudtshoorn Hospitaal dood verklaar.

Saterdag se diens volg op ’n kransleggingsgeleentheid verlede Dinsdagaand wat deur honderde inwoners bygewoon is.

Klaassen se kis is ná ’n huisdiens in Dertiende Laan om die beurt deur vriende en familielede na die kerk gedra, begelei deur die blaasorkes van die Oudtshoorn United Congregational Kerk.

Hy was volgens apostel Granwill Baadjies ’n nederige, unieke en spesiale mens wat by sy kerk se Sondagskool betrokke was.

Die gemeenskapsleier en raadslid van die plaaslike munisipaliteit, Leon Campher, het Saterdag as “nog ’n hartseerdag vir Oudtshoorn” be­skryf.

“Ek hoop net die moordenaar besef Pietro is vandag begrawe, terwyl hy steeds nie na vore gekom het nie. Maar die polisie is baie naby om jou vas te trek en natuurlik gaan jy nie maklik die son sien nie want jy’t kans gehad om na vore te kom,” het Campher op Facebook geskryf.

Die moeder van die oorledene, Audrey Klaas­sen, het die bestuurder dae na sy dood ook gevra om na vore te kom.

Volgens haar sukkel sy sedert haar seun se dood om te slaap. (Deur Garnett Wicomb)