DIE Hoorn se redakteur, Angelique Erasmus, vertel sy is in Standerton in die destydse Noord-Transvaal gebore, en het in Randburg en Pretoria grootgeword.
Haar familie woon steeds almal in Gauteng.
“Ek het in my graad 10-jaar na my ouma en oupa getrek wat ’n jaar tevore na George verhuis het.
“Ek het my matriekjaar op George voltooi.”
Angelique se ouma was die sakevrou Rika Venter wat in 1988 die eerste sakekamer vir Suid-Afrikaanse vroue gestig het.
Rika en haar man, Thinus, het in 2012 van George na Oudtshoorn verhuis.
Rika en Thinus is albei verlede jaar oorlede.
Angelique het na skool ’n diploma in hotelbestuur aan die Cape Peninsula University of Technology (CPUT) verwerf en as ’n verkoops- en bemarkingsbestuurder by ’n hotelgroep gewerk.
Dié ma van drie seuns, Tristan (17), Luhann (12) en Aldo (11), en haar gesin is groot diereliefhebbers en spog met ses katte, vyf honde, vyf perde, visse en voëls!
“Ek neem ook die afgelope drie jaar aan perde-uithouritte deel – perde is my passie!” sê Angelique.
Sy is een van die stigterslede van die Outeniqua Uithouritklub wat verlede jaar tot stand gekom het.
Dié klub spog reeds met meer as 50 lede en beoog om jaarliks uithouritte aan te bied.
“Ek het pas die naweek wat verby is ’n uithourit van 80 km suksessvol voltooi op my Arabierperd, Shalom.”
Angelique sê sy skilder en speel ook graag klavier wanneer sy die tyd daarvoor kry.
“Eintlik is ek maar ’n Jack of all trades en het al verhurings gedoen, administrasie, gehekel en goed verkoop, ’n hotel bestuur, skoene geverf … en is redelik handig op my eie.
“Ek sal my eie motor en “horse box” se bande omruil en is ’n bietjie van ’n mechanic met die hulp van my man op ’n video call!”
Angelique het in 2018 by Die Hoorn betrokke geraak as bemarker, en nie lank daarna nie ook begin om berigte vir die koerant te skryf.
“Met Covid het ek egter opgehou omdat my man oorsee gaan werk het en dit moeilik was om my kinders alleen op die plaas te los.
“Ek het nooit gedink ons sal Die Hoorn kan koop nie, maar geniet dit ongelooflik baie en het ’n wonderlike span wat elkeen soveel bydra tot die sukses van die koerant!
Aangename kennis, Angelique!
Foto: Ilse Jordan Photography