GAYTON MCKENZIE, president van die Patriotiese Alliansie (PA) en burgemeester van die Sentraal Karoo-distrik, was Dinsdag op Oudtshoorn om ’n samewerkingsooreenkoms met twee plaaslike partye, die Advieskantoor en die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), in werking te stel.
Tydens ’n geleentheid by die Cape Karoo Eatery in Baron van Reedestraat het McKenzie ’n klein skare mense toegespreek, en het drie raadslede van Oudtshoorn – naamlik Leon Campher (Advieskantoor), Suzanne Jansen (PA) en Colan Sylvester (OGI) – hom bygestaan.
Volgens McKenzie het mense se oë oopgegaan en hulle besef dat samewerking en eenheid die enigste pad vorentoe is.
“Ons kom bymekaar, al die partye hier, insluitend ook Saamstaan, en ons gaan hande vat om ons mense te verlos van die gemors wat hier aangaan,” het hy gesê.
McKenzie het bygevoeg dat die plan vorentoe nou is om die DA in die provinsie uit die kussings te lig.
“Die DA en die ANC – een is ’n tier en die ander een ’n leeu – daar is nie vir ons ’n verskil tussen hulle nie. Enige een wat voor ons kom, verwyder ons uit die pad uit. Ons wil ons plek oorvat. Ons wil seker maak ons kinders het dieselfde regte as ander mense se kinders. Hul CV’s word in die asblik gegooi in die Wes-Kaap. Dit kom nou tot ’n einde.”
Hy het ook ’n boodskap vir Helen Zille gehad.
“Gaan na jou kleinkinders toe, hulle wag vir jou. Gaan speel met jou kleinkinders, jy’s oud. Ons is nou besig om dinge reg te kry hier.”
Volgens McKenzie weet raadslede hier presies wat in die dorp moet gebeur, maar het hulle net die kans nodig.
“Ek is nie beter as hulle nie, maar ek het die geleentheid gekry om te doen wat ek doen. Ek is hier om te help om vir hulle die geleentheid te skep.
“Die DA op Oudtshoorn gaan nie in vrede rus nie. Ons gaan hierdie plek verander.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
PA, Advieskantoor en OGI sluit ooreenkoms op Oudtshoorn
Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie (PA, middel voor), het Oudtshoorn Dinsdag besoek. By hom is van Oudtshoorn se raadslede wat namens hul partye ’n samewerkingsooreenkoms met die PA gesluit het: raadslid Leon Campher (Advieskantoor, tweede van links voor), Suzanne Jansen (PA, agter McKenzie) en Colan Sylvester (Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief - OGI, heel regs agter). Foto: Stefan Skapie Goosen