
DIE CP Nel Museum op Oudtshoorn beoog om ’n monument op te rig ter herdenking aan die 500 Poolse weeskinders wat in 1942 na Suid-Afrika gebring is.
’n Aansoek om die monument op te rig, sal aan die plaaslike munisipaliteit aan wie die terrein behoort, gerig word terwyl Erfenis Wes-Kaap ook genader sal word vir toestemming.
500 van die Poolse weeskinders is nadat die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek en die Duitsers Pole ingeval het, per skip uit Rusland via Iran na Suid-Afrika gebring.
Toestemming dat die kinders na Suid-Afrika gestuur kan word, is deur die destydse Suid-Afrikaanse regering onder die leiding van Jan Smuts verleen.
’n Poolse Kinderhuis (Dom Polskich Dzieci) is tydelik in Oudtshoorn op die plek waar die Oudtshoorn Infanterieskool tans is, opgerig om die kinders te huisves, met verblyf, versorging en ’n onderrigafdeling vir hulle.
Dit is onder die vaandel van die Departement van Maatskaplike Welsyn bestuur, sowel as Poolse konsulêre en regeringsverteenwoordigers.
Die kinderhuis is in 1947 gesluit en kinders is daarna regoor die land uitgeplaas om hul skoolloopbane te voltooi.
Die monument sal nie net die erfenis van die kinders beskerm nie, maar ook verseker dat hul nalatenskap vir baie jare nog by die museum te sien sal wees.
Besoek gerus die CP Nel Museum vir meer inligting oor die geskiedenis van die Poolse weeskinders, wat steeds jaarliks in September reünie in Oudtshoorn kom hou. (Deur Angelique Erasmus)