Hooggeregshof uitspraak oor swartsakprotes

Benjamin Nothnagel, Greyling se Advokaat, Arno Greyling, Andre Barnard en Innecke Grobler van HB Attorneys Vrydag, 13 Oktober buite die Hooggeregshof in Kaapstad waar die saak teen Greyling aangehoor is. Foto: Verskaf

Die Saak teen Arno Greyling, ’n inwoner van Oudtshoorn is Vrydag 13 Oktober in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Die regsaksie is deur die Oudtshoorn Munisipaliteit teen Greyling gebring nadat Greyling twee swartsak proteste, en toe weer ’n derde protesaksie georganiseer het. Met die derde aksie het hy homself aan die “Ek is Oudtshoorn” bord, oorkant die Oudtshoorn Munisipaliteit, vasgeketting en sy mond toegeplak. Die protes het gehandel oor tarief- verhogings wat einde Julie vanjaar in werking getree het.

Volgens Greyling het die saak goed afgeloop. “Daar was vier klagtes teen my gewees,” vertel Greyling. “Daar is baie vrae oor waarom die saak na die Hooggeregshof gegaan het, en nie na die landdroshof nie.” vertel Greyling.

Greyling het op die verskeie WhatsApp-groepe verduidelik dat hy ’n minimum van R30 000 kort om die regsaksie teen te staan. Lede op die groepe het binne twee dae die bedrag van R45 980 ingesamel.

Volgens ’n persverklaring deur Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, verwelkom Oudtshoorn se Munisipale Bestuurder, Walter Hendricks die hooggeregshof se uitspraak dat die swartsak protes onwettig was. “Die munisipaliteit kan nie toelaat dat die wette verontagsaam word nie,” lui die verklaring. Volgens Hendricks het Oudtshoorn se Burgemeester, Chris Macpherson dit duidelik gestel dat mense die reg het om te protes, maar dat die regte prosedures en landswette gerespekteer moet word.

“Ek het kennis geneem van inwoners se bekommernisse en vra dat ons eerder saamwerk om in die toekoms ’n begroting uit te werk waarby almal baat en effektiewe dienslewering dieselfde tyd verseker.” het Macpherson in die verklaring gesê.

Hier volg die hooggeregshof se uitspraak. Greyling mag nie swartsakke of enige ander vullis stort, ophoop, plaas, deponeer en ook nie soortgelyke protes-aksies weer veroorsaak nie. Elke party moet ook sy eie regskoste betaal.