Berader gaan tronk toe vir seksuele aanranding

’N Voormalige lid van die beheerliggaam van ’n laerskool in Bridgton wat ook ’n berader is, en aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn streekhof vir tien maande tronk toe gestuur.

Jan Botha het op 14 September 2022 ’n 21-jarige vrou se privaatdele en sitvlak betas terwyl hy met haar ’n onderhoud in die skool se rekenaarlokaal gevoer het. Hy het dit gedoen terwyl sy haar hande in die lug moes hou en hy vir haar gebid het.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê enige ander vonnis sal ’n verkeerde boodskap uitstuur. Botha toon geen berou nie, wat ’n aanduiding is dat hy dieselfde misdryf in die toekoms kan pleeg.

Die landdros het weer beklemtoon dat dit skokkend is dat die skoolhoof aan wie die klaer onmiddellik gerapporteer het, haar nie gehelp het nie.

Botha is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan hy ten minste tien maande agter tralies sal moet deurbring. (Deur Garnett Wicomb)