Totsiens Smiley!

Bo: Hierdie pragtige foto van Smiley is deur die bekende fotograaf, Rudy van Heerden, geneem. Vir baie inwoners van Oudtshoorn wat vir Smiley of Flippie, soos hy bekend was, gereeld gesien het, sal dit wees soos hulle hom onthou. Altyd vriendelik, met ’n groot glimlag op sy gesig. Baie gaan sy groet mis. Foto: Rudy van Heerden Onder: Die forensiese eenheid op die toneel in die veld by Condorstraat besig, om Agus se liggaam te verwyder. Foto: Lindi Brill

Die liggaam wat verledeweek, Woensdagmiddag 16 Augustus 2023, in die veld agter Condorstraat gevind is, is die van die vermiste Hendrik Agus, beter bekend in Oudtshoorn as “Smiley” of Flippie.

Smiley het op 10 Augustus 65 geword, slegs ’n week voor sy liggaam deur die polisie ontdek is.

Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap polisie, het in ’n mediaverklaring aan Die Hoorn gesê dat die liggaam in ’n gevorderde stadium van ontbinding was.

“Die liggaam is uitgeken as Hendrik Agnus (65),” lui die verklaring verder.

’n Nadoodse ondersoek is verlede week afgehandel. Dit blyk dat hy dood is aan natuurlike oorsake.

Daar was egter verskeie kommentare op Die Hoorn se Facebook video plasing vanaf lesers en persone wat in daardie omgewing woon. Baie kommentare het daarop gedui dat dit moontlik die liggaam van Smiley kon wees.

Hy was ’n bekende straatloper in die omgewing, en deur baie inwoners geken.

Verskeie inskrywings het verwys na sy vriendelikheid en dat hy altyd geglimlag het.

Hy het ook verskeie inwoners daagliks gegroet en gewaai vir hulle wanneer hul verby hom ry.

Daar is sowat ’n week of twee voor die liggaam ontdek is op die Facebookgroep “Oudtshoorniete staan saam” gevra of iemand hom onlangs gewaar het.

Verskeie opmerkings was dat hy lanklaas gesien is en daar is kommer oor sy veiligheid uitgespreek.
Janine Swanepoel skryf, “Shame is dit nie dalk Smiley nie, almal vra na hom. Goeie ou siel. Altyd vriendelik,”.

Nog ’n inskrywing lees “Hy het altyd so mooi gepraat. Môre juffie, middag juffie, veilig wees juffie,” het Theresa Adams geskryf.

Die Hoorn het verder inligting bekom dat Mnr Henry Bence die persoon was wat Agus se liggaam uitgeken het.

Bence het aan Die Hoorn vertel dat hulle ’n snuffelhond vanuit George laat kom het om hom op te spoor nadat hy self ’n paar dae deur die veld gesoek het na Smiley.

“Binne ’n halfuur het die hond hom opgespoor”, het Bence gesê.

“Dit blyk dat die oorsaak van sy dood verkluiming was, alhoewel die lykskouing ook gewys het dat Agus aan ’n ernstige longsiekte gely het.”

Smiley se begrafnis het gister, Woensdag 23 Augustus, by die Dysselsdorp begraafplaas plaasgevind.

“Hy is ’n bewys dat ’n klein vonkie soos ’n vriendelike glimlag al is wat sommige mense nodig het om hul dag op te helder”, het Leon Campher, Oudtshoorn raadslid, gemeenskapsleier en stigter van die Oudtshoorn Community Against Crime groep in ’n plasing op Facebook geskryf. (Deur Lindi Brill)