Talle inwoners raadop met vandalisme, diefstal en roof

’n Slot wat vermoedelik met ’n klip gekap is om toegang tot die stoorplek van die vliegklub te kry. Foto verskaf Foto onder: ’n Skermgreep van Piedt se video op Facebook wys waar die kragboks uit die muur geruk is by die Plate. Foto verskaf

Groot kommer heers in Oudtshoorn oor die toename en voorvalle van vandalisme, diefstal en plundery by instansies, besighede, persele waar stokperdjies beoefen word asook wonings in die dorp en omgewing.

Talle persone het na vore gekom na ’n vorige berig in Die Hoorn oor die Skougronde wat erg deurloop.

By die Kango Vliegklub op die honde-eenheid- pad is daar groot skade aangerig. Van die skade sluit in slotte wat van hekke afgebreek is om toegang tot die eiendom te kry.

Slotte van ’n stoorkamer is oopgebreek en daar is ook groot skade aan badkamers aangerig wat sopas oorgedoen is vir die lede.

Daar is ook vuur gemaak en ’n klomp gebreekte drankbottels het orals gelê wat ’n risiko vir lede en hul kinders inhou.

Volgens Jan-Hendrik Alberts, voorsitter van die klub, is dit nie die eerste keer dat daar skade by die vliegklub aangerig word nie.

“Die vorige kere is die toilette tot op die grond afgebreek, betonmure is omgeskop en van die bome is ook omgeskop. Hulle het van die tafels en dakplate gebuig deur op dit te staan en spring. Daar is ook op die aanloopbaan met motorfietse “gespin” en die teeroppervlak is erg beskadig. En sodra ons alles herstel het kom hulle weer terug om skade aan te rig”, het hy aan Die Hoorn vertel.

Ander instansies in Oudtshoorn wat ook gereeld deurloop is die skougronde op die hoek van Parkweg en Rademeyerlaan soos berig in Die Hoorn van 17 Augustus.

“Ons is moedeloos, ons weet nie meer wat om te doen om ons eiendom en strukture te beskerm nie. Emosioneel is dit baie uitputtend om heeltyd daaroor bekommerd te wees”, het ’n lid van die perdryklub aan Die Hoorn gesê.

“Een van die booswigte is wel in hegtenis geneem op aanklag van diefstal. Hy het egter nie vir sy hofverskyning opgedaag nie. Hy is weer daar gevang en vir betreding in hegtenis geneem, maar is weer vrygelaat aangesien die hof nie ’n lasbrief teen hom uitgereik het vir die verontagsaming van sy hofdatum nie”, het Lindi Brill, tesourier van die perdryklub vertel.

Dis nie net die dorp wat deurloop nie. In nog ’n geval wat onder Die Hoorn se aandag gebring is, is Bridgton Stadion, ook bekend as Die Plate erg beskadig.

Ronald Piedt het ’n video op die Facebook groep, “Oudtshoorniete staan saam” geplaas waarin hy wys hoe die stadion geplunder en verniel is.

“Pype is uitgesteel, kragproppe is gesteel, kaste se deure is afgehaal, die plafon is beskadig, die kragboks is gesteel en ruite is stukkend gegooi”, het Piedt aan Die Hoorn vertel.

Hy het die video geneem op 5 Augustus tydens die rugbywedstryd tussen Bridgton en Heidelberg.

Die Hoorn het ’n peiling aan verskeie persone wat al deurgeloop het gestuur en hier volg van hulle antwoorde.

Franklin Kleynhans van Bongolethu het al 3 keer deurgeloop.

“Ek is al op straat beroof, en daar is al by my huis en motor ingebreek,” het hy vertel.

Hulle het sy dogtertjie se fiets gesteel, ’n sel-foon, elektriese kabels, selfoonlaaier, musiek sisteem en selfs skadunet. Sy motor is ook gesteel en nooit gevind nie. Hy het in al 3 voorvalle sake gemaak by die polisie, waarvan hy weet dat in een van sy sake die oortreder gestraf is.

“Daar was nog ’n saak van my voertuig, daardie saak is net morsdood en niemand kom terug na my toe nie, my kar was gevat sonder my toestemming en my kar nog tot op hede weg.”

Maria Edwards vertel dat haar hondjie vanjaar uit haar erf gesteel is. Daar is ook by haar huis ’n verlengingskoord, tommybar, ’n hondeleiband, tuinslang, vleisbyltjie, wasgoeddraad, twee pale, haarversogingstoestelle, geld, kragproppe en 20 sinkplate gesteel. Die voorval het in Dysselsdorp gebeur toe sy daarheen getrek het, maar sy bly deesdae in Rosevalley.

“Wat van die saak geword het weet ek nie. Die plate is hier gesteel en die polisie het gesê ek moet uitvind wie die verdagtes is, toe los ek dit want toe bly ek nog paar maande hier en ken nie mense nie,” het sy gesê.

Die Hoorn se peiling op Facebook, op die blad Oudtshoorniete Staan Saam het daar amper 200 persone op geantwoord.

38% was slagoffers van huisbraak, 23% van roof. 12% het al onder vandalisme deurgeloop, en 6% is aangerand. Die peiling sal steeds beskikbaar wees vir nog persone wat daarop wil antwoord.

Die volgende peiling op dieselfde Facebook blad, het aangedui dat meeste persone by die hul huis of op straat slagoffers van misdaad was.

In Die Hoorn van 10 Augustus is die volgende misdaadsyfers vir die jaar deurgegee wat verband hou met die volgende misdade.

Volgens die nuutste statistieke vir die jaar is daar ’n toename, veral in roof en winkeldiefstal. Armoede is natuurlik een van die belangrikste bydraende faktore. Met moeilike ekonomiese toestande het baie hul werk verloor, en weens die verhoging van die pryse van die kos kry kopers minder waarde vir hulle geld.

Dit is ook belangrik om te kyk waar misdaad oor die algemeen voorkom. 70% van alle voorvalle kom in Sektor 1 en 2 voor, naamlik Bridgton en Bongolethu. Dan kom daar 20% van die voorvalle in die middedorp voor, Sektor 3, waarvan meeste winkeldiefstal en inbrake is. Die laaste 10% vind plaas buite die dorp in landelike gebiede en plase wat as Sektor 4 bekend staan.

Hier volg die statistieke vir arrestasies roof, diefstal en winkeldiefstal vir die jaar (slegs vir Oudts-hoorn se Sektore 1 – 4):

Gesteelde Goedere: 86, Inbrake by besighede: 2, Beskadiging van eiendom: 79, Winkeldiefstal: 145, Roof met ’n vuurwapen of speelgoedgeweer: 9, Roof met verswarend omstandighede: 21.

Wat egter ’n rede tot kommer is, is dat meeste van die persone met wie Die Hoorn gepraat het nie sake maak nie, so die syfers is heelwaarskynlik baie hoër as wat hier berig word.

Die grootste vraag bly egter, hoe hou jy jouself, jou eiendom en jou gesin veilig, en verhoed dat hulle nie net nog ’n statistiek word nie. (Deur Lindi Brill en Angelique Erasmus)

’n Lekker snoesige slaapplek vir een van die vandale by die Oudtshoorn Skou-gronde. Daar is tot vuur gemaak op die grond en alle pype en drade uit die muur geruk. Foto verskaf

Die skermgreep van Piedt se video wys hoe kasdeure afgeruk is en vullis en gemors op die vloer rondlê by die Plate. Foto verskaf

’n Besigheid by die Skougronde se heining is verwoes en gedeeltelik gesteel. Foto verskaf