DIE Klein Karoo juig oor die broodnodige reën wat vanaf Saterdag oor die streek geval het.
Waterstrome van genade loop weer deur dorre landskappe, uit klowe en in droë rivierlope.
Ten spyte van paaie wat verspoel het, juig boere soos Ebon le Roux en Barry Meijer oor die reën en sê hul gebede is verhoor. Le Roux, van De Denne in die Rooiheuwel-omgewing, sê 76 mm reën het in 45 min op sy plaas geval. “Ek herstel die paaie met ’n glimlag. Ons het gebid vir hierdie reën en het al so lank droogte,” sê hy. Dit het ook by hulle gehael en twee van sy volstruise is doodgeslaan.
Meijer, van Meijersrust in die Meiringspoort, het laat weet dat hy op sy plaas 49 mm gemeet het en dat die rivier laas in Januarie 2014 so sterk gevloei het. George Nel van Matjiesrivier het 32 mm teen Maandag op hulle plaas gemeet.
Andrea Lerm van De Bad, een van die droogste dele in die Klein Karoo, het vertel dat hulle sowat 38 mm gemeet het, en dat daar op ’n plaas ’n ent verder 53 mm reën geval het.
Laubscher Coetzee van Volmoed het aan Die Hoorn gesê sowat 70 mm is by hulle gemeet. Volgens hom is daar in die Kammanassieberge gemiddeld tussen 50 tot 60 mm gemeet. By sommige plekke het selfs 100 mm reën geval.
Met die wonderlike neerslag is daar ook ongelukkig skade aan bome, kragdrade, mure, dakke en grondpaaie aangerig. Volgens ’n persverklaring deur die Oudtshoorn Munisipaliteit het al die laagwaterbrûe in die dorp oorstroom, en moes baie van die strate gesluit word vir inwoners se veiligheid.
Meiringspoort is Sondagmiddag rondom 13:00 gesluit vir verkeer nadat swaar reën in Klaarstroom uitgesak het en die laagwaterbrûe in die poort oorstroom het. Ses voertuie (twee bakkies, twee motors en twee vragmotors) was tydens die swaar reën in die poort vasgekeer. Die hulp van die AMS-helikopter (Air Mercy Service) kon nie ingeroep word nie, omdat die wolke baie laag in die poort was en dit te gevaarlik was vir die helikopter om te land. Die persone en hul voertuie was egter buite gevaar omdat hulle op hoërliggende dele in die poort gestrand was. Nadat die watervlakke genoegsaam gedaal het, is hulle Maandag na veiligheid gebring, begelei deur nooddienspersoneel. Die pas is Maandagmiddag omstreeks 15:00 weer oopgestel vir verkeer nadat dit opgeruim is.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n beroep op padgebruikers gedoen om dadelik deur die poort te ry sodra dit hard begin reën, en nie te stop om na die besienswaardighede te kyk nie. “Die laagwaterbruggies is geneig om baie vinnig te oorstroom,” het Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit aan die Die Hoorn gesê.
Sekere dele in en om Oudtshoorn het ook kragonderbrekings ervaar en Oudtshoorn se beheerkamer het meer as 100 oproepe van inwoners ontvang om foute te rapporteer. In sekere dele was die krag vir lang rukke af nadat ’n kragkabel probleme gegee het. Die munisipaliteit se elektrisiëns moes dit stuk-stuk herstel. Teen Maandag was daar slegs nog ’n handvol kragprobleme oor as gevolg van die reën.
Daar was ook ’n rotsstorting op die N12 in George se rigting, sowat 15 km buite Oudtshoorn, voor die Perdeskoendraai. Verkeersbeamptes is op Die Hoorn se Facebookblad geloof vir hul pligsgetrouheid nadat hulle die klippe in die pad opgetel en die pad in die reën skoongemaak het.
Die Oudtshoorn-toetsstasie is Maandag ook gesluit tot verdere kennisgewing nadat die hewige storm die toerusting beskadig het.
Skade aan dakke in Blackjoint, Kanaalweg en die GG Kamp, asook in Volmoed, Kliplokasie en Bongolethu is aangemeld. Hierdie gebiede is Sondag deur Oudtshoorn se burgemeester Chris Macpherson besoek. Die munisipaliteit het van Sondag af reeds 183 rolle “Gunplus” (’n dik, waterdigte plastiek) aan inwoners uitgedeel.
Troebel water is in Blomnek en De Rust aangemeld. Hierdie gebiede kry hul water vanuit die Huisrivier, wat tans sterk vloei. Die water word met chloor behandel omdat daar geen watersuiweringsaanleg is nie. Die troebel water hou geen risiko in vir inwoners nie, maar die munisipaliteit het wel ’n versoek gerig aan inwoners om eers die water te kook en te wag dat die waterkleur terugkeer na normaal voordat dit gedrink word.
Hier is die reënmeterlesings vir Oudtshoorn en omliggende areas soos deur ons lesers met Die Hoorn gedeel:
● Die dorp self het tussen 24 mm en 55 mm reën gehad.
● Die Raubenheimersdam se damvlakke het van 70,03% na 75,15% gestyg toe dit Maandag gemeet is. Slegs 49 mm reën het by die dam geval. (Deur Angelique Erasmus)
Klein-Karoo slurp elke druppel reën op

- Verspoelde volstruis-kampe
- Laagwaterbruggies in
Meiringspoort het
oorgeloop. - Grondpaaie het in
riviere verander. - Paaie in Oudtshoorn
lyk soos damme. - Rotsstortings.
- Water teen riete opge-
druk en paaie is versper. - Verskeie bome het
omgewaai.
Foto’s verskaf