‘Sy hart was in Oudtshoorn waar hy ’n verskil wou maak’

Melcus Nel, soos diegene wat hom geken het, hom sal onthou. Foto Tania Smit

HY was ’n Oudtshoorniet met ’n hart vir sy dorp, gefokus om sy kundigheid in te span om hier ’n verskil te maak.

So het inwoners die afgelope week die sakeman Melcus Nel (60) beskryf wat Son­dagoggend weens ’n bloedklont deur die long by sy huis op Oudtshoorn gesterf het.

Nel se skielike dood was nie net vir sy gesin en vriende ’n groot skok nie, maar is ook met skok en meegevoel deur inwoners begroet.

“Die gemeenskap dra ons. Ons is so dankbaar,” het sy dogter, Monet Verlinde, Dinsdag gesê.

Nel was ’n swartbemagtiging- en transformasie-spesialis binne die agri-sektor. Hy was uitvoerende bestuurder by die Signa groep van maatskappye, en het op die AgriSEB Handvesraad gedien. Signa is ’n toonaangewende maatskappy vir eko­nomiese transformasie-oplossings en vaardigheidsont­­wikkelings­programme.

Hy was te midde van sy ander ver­plig­tinge vanaf Februarie 2008 tot Februarie 2010 voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer en vir lang rukke ook ondervoorsitter en bestuurslid.

“My pa se besigheidskop was in die Kaap en Johannesburg, waarheen hy om­trent weekliks vir werk gevlieg het,” vertel Monet. Sy sê haar pa was lief vir reis en stede regoor die wêreld, maar dat sy hart in Oudtshoorn was waar hy werklik ’n verskil wou maak.

“My ouers het ons grootgemaak om nie net ons stemme te lug nie, maar ook self in te spring en ’n verskil te maak in die omgewing waar ons beweeg. En dis presies wat my pa hier gedoen het; waar hy vir ander die wêreld ’n beter plek wou maak.”

Dis ook by haar “wonderlike pa” waar sy en soveel ander waardevolle lewenslesse geleer het, vertel sy. “Daarvoor is ons dankbaar. Die hartseer is net dat daar nog so baie was wat die wêreld by hom kon leer.”

’n Groot vriend van Nel, Jaco Vorster, het Nel bestempel as ’n bron van kalmte, insig en ’n ware mentor. “Hy het die eers­te grondwet vir die Besigheidskamer ge­skryf. Hy het soveel insig gehad in die dorp en die wêreld en was gereeld vir my ’n klankbord. Melcus was altyd daar om raad te gee, altyd beskikbaar. Hy het so ’n groot passie vir Oudtshoorn gehad, en spesiaal vir die mense van Oudtshoorn. Daardie liefde vir Oudtshoorn was een van die eerste groot aanknopingspunte tussen ons.”

Die Nel-gesin het 20 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis.
• Melcus Nel word oorleef deur sy vrou Steph, hul dogter Monet Verlinde, seuns Coenie Nel en Rohan Minnaar, klein­kinders Rebekah en Rehum Minnaar, en ’n broer, Nicky Nel.

’n Herdenkingsdiens vir Nel vind van­dag (Donderdag) om 11:00 in die NG Kerk Oudtshoorn-Wes plaas.
• Nog ’n oud-voorsitter van die Besig­heidskamer, Bennie de Wet, is Saterdag oorlede. Lees berig https://www.diehoorn.com/nuus/positief-tot-aan-die-einde/. (Deur Liesel le Roux)