Positief, tot aan die einde

Bennie en Tersia de Wet. (Foto: Facebook)

’n Deel van die versoe­nings­optog van 2011.

’N OUD-SAKEMAN van Oudts­hoorn en oud-voorsitter van die dorp se Besigheidskamer, Bennie de Wet (71), is Saterdag op Humansdorp ná ’n beroerte oorlede.

De Wet het aan terminale pan­kreaskanker gely en was onlangs op Oudtshoorn saam met sy vrou, Tersia, om vir haar ’n geskikte bly­­plek te vind omdat sy na sy dood wou terugkeer Oudtshoorn toe.

Die De Wets het enkele jare ge­lede na Humansdorp verhuis.

De Wet was op Oudtshoorn die eienaar van Bennie de Wet Finansiële Dienste en jare lank ’n aktie­we lid van die Besigheids­kamer. Hy was van Februarie 2004 tot Februarie 2006 voorsitter van die kamer.

De Wet, ’n diep gelowige man, was ook jare lank saam met ge­meenskapsleiers soos wyle David Piedt en Manuel Santi betrokke by pogings om eerlike en verant­woor­delike dorpsbestuur daar te probeer stel.

Hulle drie was ook in November 2011 betrokke by die orga­ni­se­ring van ’n historiese versoe­nings­optog van sowat 800 Oudts­hoorniete wat uit twee rigtings na die munisipaliteit gestap het om ’n me­morandum aan die destydse bur­gemeester, Gordon April, te oor­handig en hul ontevredenheid te kenne te gee oor die wyse waar­op die dorp in daardie stadium be­stuur is.

Die optog is onder die vaandel van die Oudtshoorn Burgerlike Beweging georganiseer, wat ge­streef het na die bevordering van geregtigheid, stabiliteit en versoe­ning. Tydens die optog het inwo­ners uit die ooste uit die rig­­ting van Bridgton en uit die weste uit die rigting van Wesbank as simbool van versoening voor die munisipaliteit by mekaar aan­gesluit.

’n Roudiens vir De Wet word Vrydag in die NG Kerk Humansdorp-Oos gehou.

Tersia het Maandag aan Die Hoorn gesê sy is bevoorreg dat al hul kinders – hul seun Conrad en twee dogters uit Australië, Benita Derbyshire en Yana Snyman – die week by haar op Humansdorp kan wees.

De Wet word ook oorleef deur ’n broer André wat vandeesweek die volgende huldeblyk aan sy ont­slape broer op Facebook ge­plaas het: Rus in vrede, my broer. Jy was almal se go to man as ons raad nodig gehad het, het altyd die ander kant van die muntstuk ook raakgesien. Jy het ’n pad met die Here gestap wat vir ons almal ’n voorbeeld was. Jy was altyd positief, tot die einde toe. Ek gaan jou mis. (Deur Liesel le Roux)