Rotariërs wil help met lapmaskers vir almal!!!

BENEWENS die voedselhulpprojek het die Oudtshoorn Rotariërs nou ook ’n projek aangepak om ’n bydrae daartoe te lewer dat soveel moontlik mense in die Groter Oudtshoorn en in die omgewing lapmaskers dra.
Dit word algemeen aanvaar dat die dra van lapmaskers deur onder meer die publiek help om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp. Die stelling “ek beskerm jou, jy beskerm my” het al as ’t ware ’n slagspreuk vir die dra van lapmaskers geword.
Die maskerprojek word aangepak in samewerking met Mask4All wat reeds lapmaskers maak en dit gratis aan onder meer gesondheidswerkers beskikbaar stel.
Amanda Pieterse, wat voor vat by Mask4All, sê hulle het al 1 500 maskers gratis verskaf aan onder meer mediese personeel en werknemers van besighede wat essensiële dienste en produkte verskaf.
Sy het ook al 30 vrywillige naaldwerkers wat help om die maskers te maak.
Om meer van Mask4All (Oudtshoorn and Surrounds) se projek te lees, besoek gerus hul Facebookblad..
Schalk le Roux, president van die Oudtshoorn Rotariërklub, was vol lof vir Masks4All vir die inisiatief wat hulle geneem het en die goeie werk wat hul reeds gedoen het.
“Ons beskou hierdie as ’n gemeenskapsprojek en nooi almal wat naaldwerk doen en nog nie maskers stik nie om vrywillig betrokke te raak en sodoende ’n bydrae te lewer om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Ons wil soveel mense as moontlik agter hul naaimasjiene kry.
“Die Rotariërklub het reeds ’n bedrag van R5000 bewillig om lap en ander materiaal aan te koop om die maskerprojek ’n hupstoot te gee.
Die Rotariërs sal die lap en ander materiaal asook ’n patroon verskaf wat nodig is om die maskers te maak.
Naaldwerkers wat graag by die maskerprojek betrokke wil raak, kan Suné Rupping van die Rotariërs by sel 0823097834 kontak of vir haar ’n WhatsApp stuur.
Mense wat materiaal wil skenk vir die projek kan dit by Pick-n-Pay op Oudtshoorn aflewer. Daar is ’n trollie by die ingang. Skenkers kan ook vir Pieterse bel by 0827670289 of haar WhatsApp.
Diegene wat verkies om ’n finansiële bydrae tot die Rotariërs se maskerprojek te lewer, kan ’n inbetaling doen by by die Rotariërs se Nedbankspaarekening: Rek nr: 902 150 6772, takkode 198 765.
Vir elke R100 wat geskenk word, kan 20 maskers gemaak en versprei word,
Hoewel die Rotariërs nie die maskers verkoop nie, sal besighede wat die maskers wil bekom vir hul personeel of dit aan hul kliënte te skenk, vir ’n vrywillige finansiële bydrae gevra word. Die skenkings sal net so in die maskerprojek teruggepomp word om dit volhoubaar te maak en om soveel maskers as moontlik te versprei.
• Intussen is al skenkings vir 90 voedselpakkies vir die Rotariërs se voedselnoodprojek ontvang. Hiervan is 54 pakkies al versprei en word ’n verdere 36 vandeesweek versprei.
Die publiek en besighede word steeds genooi om bydraes tot ons voedselprojek te lewer. Voedselpakkies ter waarde van R200 per pakkie word versprei. Bydraes kan gedeponeer word in die volgende bankrekening: Nedbank Oudtshoorn: Reknr 162 601 4752. Taknr 162 645. Vir navrae oor die voedselnoodprojek kan Dalia Wilck by sel 084 620 0977 gekontak word.