Kleuter verdrink in wateremmer

Kinders begrawe hul ouers en nie andersom nie, is woorde waaraan elke gemeenskap bly vasklou. Vir die  familie van Henzel Plaatjies (een jaar en 11 maande) van Anysberg buite Ladismith het dit egter juis andersom gewerk toe die seuntjie op 10 April in ‘n fratsongeluk in ‘n emmer water buite die huis verdrink het.

Hoewel sy suster sy ma, Angelica, gaan roep het toe dit gebeur het, was dit te laat om Henzel te red.

Henzel se ouma, Sylvia Plaatjies, vertel: ”Ons was so geskok. Vir my dogter was dit erg. Vir ons almal was dit erg. Sy het baie keer van die plaas dorp toe gekom. Dan het sy ouma se pragtige kleinseun saamgebring. Maar die Here weet van beter. Hy sou op 16 April verjaar het en  twee jaar oud geword het.”

Volgens die Plaatjies-familie wat op Ladisith woon, was Angelica gebroke en stukkend toe sy haar kind in die sak van die forensiese span gesien het. Sy het geworstel waarom die Here haar kind moes kom haal het.

Haar broer, Andrè vertel: “Ek het haar vergesel na Oudtshoorn na die lykshuis. Al wat ek vir haar kon sê,  was om haar hart uit te huil.”

Henzel se oumagrootjie, Sophia Plaatjies,  het ook op ‘n tragiese wyse ‘n kind aan die dood afgestaan. “Daar is reeds vyf van ons familiekinders vroeg dood. Dis asof die dood ons kinders agterna sit. Maar ons is gelowig en glo God sal ons ook hierdeur dra.”

Sers Chris Spies, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die lykskouing is reeds gehou en geen gemene spel word vermoed nie, ” het hy gesê. (Berig en foto: Deon Meyer)