Daar is geen bevestigde gevalle van COVID-19 in Ladismith nie.
Volgens die hoof: rampbestuur, Wayne Robertson, vergader die dorp se rampbestuurspan drie keer per week en poog hulle om die dorp vry van die koronavirus te hou. Tot Woensdag 15 April 2020 is 18 persone al vir COVID-19 getoets, met 16 negatiewe uitslae en twee uitslae waarop nog gewag word.
Die rampbestuurspan bestaan uit Robertson, Steph Pietersen (voorsitter en verkeershoof), Murushda van Heerden en Charlton Breda wat verantwoordelik is vir die byhou van data, lede van die Kannaland Verkeersdepartement, die SAPD, Departement Maatskaplike Ontwikkeling, die mediese nooddiens (EMS), CDW, die Alan Blythe Hospitaal met dr Jaco Denkema aan spits, dr Lindie Bosman en die wetstoepassingspan.
Daar is begin met die reiniging van openbare geriewe in Ladismith, soos die toilette by die taxi-staanplek en die staanplek self. Die Kannaland Munisipaliteit het ook vier wateropgaartenks in informele nedersettings geïnstalleer.
Die rampbestuurspan werk voorts nou saam met die polisie om inperkingsregulasies streng toe te pas. Pietersen sê motoriste sonder die nodige reispermitte moes al omdraai by die dorp se padblokkades wat 24 uur per dag beman word. “Dis egter belangrik dat mense moet weet ons baklei teen die virus en nie teen mense nie,” sê hy. (Berig en foto: Deon Meyer)