Die pas afgelope volstruisinligtingsdag waartydens die 19de jaarlikse volstruisveiling aangebied is, toon dat die bedryf net al beter raak.
Die fokus was op die gehalte van die vel en vere en te oordeel aan die pryse wat behaal is, is volstruisboere bereid om vir die beste te betaal.
’n Broeipaar volstruise wat deur PJ Terblanche en Seuns aangebied is, het onderskeidelik R26 000 vir die mannetjie en R41 000 vir die wyfie behaal.
Die gemiddelde prys van volstruismannetjies wat deur die Oudtshoorn Navorsingsplaas in die mark gesit is, het vir R9 996 verkoop, terwyl die wyfies ’n gemiddelde prys van R21 630 behaal het.
Die omsetprys van die veiling was R1 271 000, met ’n gemiddelde prys van R14 443 per volstruis.
By vorige veilings is slegs die navorsingsplaas se volstruise verkoop, maar vanjaar is volstruisprodusente genooi om uitgesoekte broeivolstruise aan te bied.
Die veiling is gesamentlik deur die navorsingsplaas, die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) en die Wes-Kaapse Produsente Vereni-ging by Cape Karoo International se opleidingslokaal in die nuwe hoofkantoor by die Emporium in Rademeyerstraat gehou.
Enigste volsrtruisnavorsing ter wêreld
Dr Ilse Trautmann, adjunkdirekteur-generaal van landbounavorsing en regulatiewe dienste by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, sê die navoprsingsplaas is die enigste ter wêreld wat navorsing oor al die aspekte van die volstruisbedryf doen.
Volgens Trautmann verkoop die navorsingsplaas jaarliks die nageslag van die navorsingskudde met die doel om die genetika wat deur navorsing moontlik gemaak word, tot voordeel van die bedryf aan te wend.
Vanjaar se veiling is voorafgegaan deur ’n inligtingsdag wat die gehalte van volstruisleer ten toon gestel het. Voor die veiling is volstruise volgens die gehalte van die vel en vere evalueer.
Piet Kleyn, die uitvoerende hoof van die SAVBK, het verseker dat die volstruise wat aangebied word voldoen aan die gewig en die mi-nimum standaarde vir die seleksie van broeivoëls.
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaap se Minister van Landbou, het gesê volstruisboere baat direk by die werk wat die navorsingsplaas doen. “Landbou is ’n wetenskap wat gedra word deur navorsing. Die navorsing wat hier gedoen word dra by tot die bedryf se sukses.
Broeivolstruise en die fokus op ekonomies waardevolle eienskappe is noodsaaklik vir die positiewe momentum.”
Hy sê die Wes-Kaapse regering se belangrikste motivering is werkskepping en ’n florerende volstruisbedryf voorspel net voorspoed vir die ekonomie en werkskepping in die provinsie.
Kontak dr Anel Engelbrecht by Anel.Engelbrecht@westerncape.gov.za vir meer inligting. (Deur Tisha Steyn)
Rekordprys vir twee volstruise
Piet Kleyn (Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskame), Pierre de Wet, Cor du Toit (albei van Kromkoe boerdery) en Anel Engelbrecht (Wes-Kaapse Departement van Landbou se Oudtshoorn Navorsingsplaas) Foto verskaf