INBREKERS het sowat ’n week gelede by die kantore van Coetzee en van der Bergh, in Baron van Reedestraat, Oudts-hoorn ingebreek.
Die persoon of persone het toegang gekry deur by een van die kantoordeure in te breek, en vermoedelik op die grond te seil, toe hulle Christo van der Bergh se skootrekenaar, twee sakke en klomp ander los items gesteel het.
“Ek het Dinsdagoggend by die werk aangekom en gesien dat daar by my kantoor ingebreek is, en dadelik die polisie ontbied,” vertel van der Bergh.
Die Polisie het toe mense en ’n vingerafdrukdeskundige ge-stuur om ondersoek in te stel.
Van der Bergh vertel dat alhoewel hy sy skootrekenaar geblok het, hy nie veel hoop gehad het om dit terug te kry nie.
Hy was egter verbaas toe hy die volgende Maandag ’n oproep kry vanaf ao. Pieter Du Plessis, en dat daar ’n moontlikheid bestaan dat hy van die gesteelde items moontlik opgespoor het en kan terugkry.
“Teen die volgende dag het ao. Du Plessis my laat weet dat ek my gesteelde items kan kom uitken,” sê hy.
Volgens van der Bergh is hy ongelooflik in sy skik met die polisie se flink optrede en uitsonderlike diens, omdat hulle al sy besittings terug gekry het, want alhoewel mens deesdae alles in die ‘cloud’ kan bêre, dit nogsteeds ’n groot ongerief is as iemand jou besittings steel.
Volgens sers. Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het die inbraak tussen 11 en 12 April 2023 plaasgevind.
“Daar word beweer dat die slagoffer sy kantoor omstreeks 16:30 op die 11de gesluit het en met sy terugkeer die volgende dag om 07:15, gevind het dat daar by sy kantoor ingebreek is. Die oortreders het die kantoordeur oop gedwing om toegang te verkry en ’n aantal items gesteel.” sê Spies.
Die verklaring lui verder dat tydens die ondersoek is die polisie gelei na ’n 31-jarige verdagte, en is van die gesteelde items in sy besit gevind.
Dit sluit ’n Apple Mac-boek met laaier, Thule-laaiersakkie, Thule-skootrekenaarsak wat swart van kleur is, en ’n Asus-rekenaarskerm met 2 kabels in.
Die verdagte het reeds in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn, en het Woensdag aansoek gedoen vir borg.
Teen druktyd was daar ongelukkig nie verdere inligting beskikbaar of sy aansoek suksesvol was nie.
Ek wil graag net my dank uitspreek teenoor die Oudtshoorn polisie wat vinnig en flink opgetree het, asook die vingerafdruk- deskundiges was soveel tyd en moeite in my kantoor spandeer het, maar ek wil veral vir ao. Pieter Du Plessis bedank en ook sers. Franlyn Lewis vir al hul harde werk, en die moeite wat hulle gedoen het om my besittings aan my terug te besorg,” sluit van der Bergh af.
In die afgelope twee maande het twee prokureursfirmas in Oudtshoorn onder inbrake deurgeloop.
Hierdie was die derde voorval van dieselfde aard. (Deur Angelique Erasmus)
Flink optrede van Polisie laat inbreker sy buit kwyt
Christo van der Bergh