VOORBEREIDINGSWERK vir die uitbreiding van die Queen’s Mall in Oudtshoorn het vandeesweek afgeskop. Dié winkelsentrum in die hart van Oudtshoorn sal na voltooiing sowat 2 244 m² beslaan, met verskeie nuwe winkels wat bykom, terwyl daar ook planne is om die parkeerterrein op te gradeer.
Volgens De Villiers Neethling van Vestsec Ten, die maatskappy wat die Queen’s Mall besit, word sekere voorafwerk tans eers gedoen voordat die fondamente vir die nuwe uitbreiding gegrawe sal word. Dit sluit in die verwydering van Absa se kitsbank en die verskuiwing van Vodacom se ingang. Dit veroorsaak ook ’n tydelike verandering in die verkeersvloei op die parkeerterrein.
Bouplanne vir die uitbreiding van die winkelsentrum is reeds in Februarie deur die munisipaliteit goedgekeur, maar ’n diensooreenkoms tussen Vestsec Ten en die munisipaliteit oor die opgradering van die parkeerterrein – waarvoor Vestsec Ten die koste gaan dra al behoort dié gedeelte aan die munisipaliteit – is eers verlede Donderdag by ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur.
Neethling sê bouwerk sal op 17 Mei in alle erns begin.
“In Fase 1 van die uitbreidingsprojek word 1 660 m² se addissionele verhuurbare ruimte ontwikkel wat reeds toegeken is aan nuwe nasionale huurders wat nog glad nie voorheen in Oudtshoorn teenwoordig was nie,” sê Neethling.
“Dié nuwe huurders is opgewonde om hulle in Oudtshoorn te kom vestig en ons is verheug oor die nuwe werksgeleenthede wat dit sal skep.
“Al die bestaande prominente huurders het ook reeds hul langtermynkontrakte hernu, met alle ruimte in die Queen’s Mall wat binnekort uitverhuur behoort te wees.”
Hy sê as deel van die uitbreiding word 1 022 m² van die bestaande winkelruimte herontwikkel met innoverende opgradering deur bestaande huurders
Wat die parkeerterrein betref, sal dit opgegradeer en verfraai word met die aanplant van nuwe bome en die vervanging van een of twee bome wat as gevolg van die bouwerk verwyder moet word.
“Die Queen’s Mall sal ook steeds die veilige winkelsentrum bly wat dit tans is, met die kamerastelsel en sekuriteit wat ook uitgebrei word.”
Neethling sê dit is vir hom verblydend dat die bestaande en ook nuwe huurders hulleself langtermyn verbind het tot die Queen’s Mall.
“Dit bevestig die gewildheid asook die gunstige ligging van die Queen’s Mall.
“Die nuwe vars ontwerp gaan verseker ’n positiewe impak op die dorp hê. Ons sien daarna uit om die ontwikkeling spoedig te voltooi en die Queen’s Mall te vestig as die nommer een-inkopiebestemming in die dorp.
’n Raadsbesluit verlede Donderdag (29 April) by ’n spesiale raadsvergadering om ’n diensooreenkoms met Vestsec Ten te sluit oor die opgradering van die parkeerterrein voor die Queen’s Mall asook die onontwikkelde parkeergebied agter die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek het ook nuwe momentum aan die projek gegee. Hoewel dié terreine aan die munisipaliteit behoort, sal ontwikkeling, opgradering en onderhoud deur Vestsec Ten gedoen en befonds word.
Die munisipaliteit het Vestsec Ten ook versoek om stalletjies op te rig vir die vereverkopers en ander entrepreneurs langs die museum.
Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit behou hulle ten spyte van die ooreenkoms die reg om die grond te hersoneer en “as die biblioteek wil uitbrei, het hulle nie toestemming van die ont-wikkelaar nodig nie.”
Instandhoudingsfunksies vir die Queen’s Mall, soos stormwater-infrastruktuur sal ook deur Vestsec Ten gedoen word, in oorleg met munisipale ingenieurs.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het die uitbreiding van die Queen’s Mall as ’n “opwindende ontwikkeling” bestempel wat inpas by die munisipaliteit se Visie 2030. “Hoewel Covid-19 ons ekonomie verlam het, het dit ook geleenthede geskep vir die munisipaliteit en ander rolspelers om meer kreatief en innoverend te word en ons pogings te verskerp om te verseker dat die Groter Oudtshoorn se ekonomie floreer.”
• Volgens Neethling is daar nog enkele kleiner huurspasies beskikbaar. (Deur Liesel le Roux)
Queen’s Mall brei uit en trek nuwe baadjie aan
’n Argiteksvoorstelling van hoe ’n deel van die nuwe groter Queen’s Mall in Oudtshoorn gaan lyk. Foto verskaf
When will the additions and upgrades be completed? How long will the disruptions last and when can we expect to see the work finished?