Tragedie, trane, trauma toe 9-jarige in kanaal verdrink

Rudicia (Janalene) Gelant (9). Foto: Rudy van Heerden

“SY was ’n pragtige dogter en een van ons sterk akademiese kandidate.”

Dit was die week die woorde van die prinsipaal van Dysselsdorp Primêr, Me­litha Botha, oor Rudicia (Jonalene) Gelant (9) wat Sondag verdrink het in ’n kanaal wat by Dysselsdorp verbyloop. Rudicia was ’n graad 4-leerder van die skool.

Rudicia se verdrinking het die gemeenskap van Dysselsdorp die week in rou gedompel en die kollig weer sterk laat val op die gevaar wat die kanaal naby die dorp inhou.

Rudicia is omstreeks 10:30 deur die water in die kanaal meegesleur wat sedert 26 April sterk geloop het.

Haar lyk is eers omstreeks 19:45 heelwat laer af deur ’n verbyganger gevind waar dit teen een van die siwwe in die kanaal in die Rooiheuwel-omge­wing vasgespoel het. Dit is na beraming sowat 10 tot 15 km van waar sy in die water geval het.

Die verwagting was die hele dag dat Rudicia binne ’n ondergrondse tonnel in die kanaal gevind sou word. Honderde mense het Sondag deur die dag skouer-teen-skouer langs die kanaal saamgedrom en gewag het dat die watervlak moet daal sodat duikers na haar kon begin soek.

Die kanaal vervoer water vir besproeiing vanaf die Stomp­driftdam tot in die Calitzdorp-omge­wing. Die sluise van die Stompdriftdam is kort nadat die kinders in die water geval het, toegemaak sodat die watervlak kon begin daal.

Volgens sers Chris Spies, woordvoer­der van die Suid-Kaap Polisie, het Rudicia in die water geval terwyl sy saam met ander kinders naby die kanaal gespeel het, Sy en ’n maat het gegly en altwee in die water beland, maar omstanders kon daar­in slaag om die maat te red.

Polisieduikers van Plettenbergbaai moes tot laatmiddag wag voordat die watervak genoegsaam gedaal het dat hulle in die ondergrondse tonnel na Rudicia kon begin soek.

Dit is afgelas toe sy elders gevind is.
Die polisie doen tans ’n geregtelike ondersoek na haar dood.

• ’n Kranslegging vir Rudicia vind vanmiddag om 16:00 plaas by die kanaal waar sy in die water geval het.

Dysselsdorp Primêr het ook gistermiddag om 13:15 ’n spesiale verbyrit verby die huis van Rudicia se aanneemouma- en -oupa, Katrina en Willem Jansen, gereël as eerbewys aan Rudicia.

Haar ma is volgens Botha twee jaar gelede oorlede. (Deur Liesel le Roux)