Waarskuwings oor sterk water in kanaal op 26 April uitgereik

DIE Stompdrift Kamanassie Watergebruikersvereniging het die week in ’n verklaring hul meegevoel aan familie en vriende betuig oor die dood van Rudicia.

“Tragedies soos die laat ons almal weer kyk na wat gedoen kan word om hierdie gebeure te probeer voor­kom,” sê Lizelle Beukes, uitvoerende hoof van die Watergebruikersver- e­niging.

“Nadat die Watergebruikersvereni­ging Sondag deur die polisie in kennis gestel is van ’n moontlike ver­- drinking in die kanaal, is die water by die Stompdriftdam onmiddellik toe­gedraai en afgooie uit die kanaal oopgemaak om die kanaal toeganklik te maak vir die soektog.”

Beukes sê die heinings wat opgerig is om die kanaal te beveilig asook die sifoonsiwwe is al verskeie kere onregmatig verwyder.

Volgens haar loop die water in die kanaal ook tans baie sterk met waarskuwings daaroor wat op 26 April uitgereik is, terwyl ’n wag ook sedertdien die oop kanaal patrolleer.

“Gesprekvoering oor die moontlike vervanging van die oop kanaalstelsel met ’n pypleiding is reeds voor die voorval op senior vlak begin. Hierdie is egter ’n groot kapitale uitleg en daar moet in ag geneem word dat die kanaal die eiendom is van Departement Waterwese en Sanitasie. Goedkeuring en befondsing sal dus van hierdie instansie verkry moet word.”

Daar word voorts aandag geskenk om tydelike siwwe voor die sifone te monteer. Dié siwwe sal verwyder kan word wanneer daar nie water vloei nie.

“Ons wil graag hande vat met gemeenskapsorganisasies, die polisie en skole om ’n groter bewustheid oor die gevare van die kanaalstelsel te skep. Gesamentlike aksies kan groter waaksaamheid onder omliggende inwoners tot gevolg hê.” (Deur Liesel le Roux)