Lyk van man Sondag agter besigheid gevind

DIE lyk van ’n man is Sondag omstreeks 12:45 agter ’n supermark in Dassieweg, Oudtshoorn gevind nadat die Oudtshoorn Polisie hieroor ingelig is. Ambulanspersoneel het hom op die toneel dood verklaar.

Die man is intussen geïdentifiseer as Dawid Thomas (21).

’n Lykskouing wat die week gehou is, het bevestig dat sy dood veroorsaak is deur honde wat hom gebyt het.
Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het die polisie Sondag met hul aankoms op die toneel honde op die perseel gekry.

Die perseel waar sy liggaam gevind is, was omhein.

Die lyk van ’n ander man is ’n paar maande gelede in dieselfde omge­wing gevind, maar dit was nie toe omhein nie. Volgens Michaels het nadoodse ondersoeke ook getoon dat dié man se dood deur ’n hond of honde se byte veroorsaak is. (Deur Liesel le Roux)