DIE Groter Oudtshoorn-raad het verlede Donderdag (12 Mei) by ’n spesiale raadsvergadering eenparig besluit om Oudtshoorn se kinderhuis vir seuns, voorheen bekend as Huis Triomf, te help om dringend ’n tussentydse fasiliteit te kry waar die sowat 30 seuns gehuisves kan word.
Past Roelof Kwant van die Barn Christian Fellowship, ’n kerk in Johannesburg wat einde Augustus 2021 by die huis en die bestuur daarvan betrokke geraak het, het tydens ’n voorlegging by die raad gepleit dat dringend opgetree moet word om die seuns uit die “onmenslike toestande” waarin hulle woon, te verwyder.
Volgens Kwant is die huis in ’n haglike toestand en skep nywerheidsaktiwiteite in die omgewing ’n gesondheidsrisiko vir kinders. Daar is geen plek vir die seuns om te speel, ontspan of ’n normale lewe te lei nie.
Kwant sê hulle wil die seuns voor einde Mei na ’n tydelike blyplek skuif en oor ’n jaar in ’n permanente fasiliteit vestig. Die Barn Christian Fellowship sal die koste dra en moontlike herstelwerk aan fasiliteite doen.
“Dis ons doelwit om ’n veilige tuiste vir die kinders te kry, en hulle ook vaardighede te leer sodat hulle eendag wanneer hul groot is en die huis moet verlaat, nie op straat beland nie.
“Hierdie is julle kinders. Ons wil saam met julle werk om ’n plek vir die kinders te vind. Ons kán hul omstandighede verander.”
Die huis staan nou bekend as die El Roi Child and Youth Care Centre. El Roi is Hebreeus vir “die God wat my sien”.
Die raad se besluit
Tydens die vergadering is aangedui dat die Kango Bergoord geïdentifiseer is as ’n moontlike tydelike verblyfplek, maar is ook besluit om as alternatief die moontlikheid te ondersoek van die verlenging van ’n ooreenkoms met die Departement van Kultuursake en Sport en die Wes-Kaapse Regering ten opsigte van die Schoemanspoort Kultuursentrum vir dié doel. Die Bridgton Chalets is geïdentifiseer as die voorkeurplek om hul program uit te voer.
Die Bridgton Chalets is geopper as ’n moontlike permanente fasiliteit wat die kerk kan aanskaf.
Die raad het voorts besluit om ’n ad hoc-komitee aan te stel om aan alle tegniese aspekte aandag te skenk en ná twee weke terug te rapporteer aan die raad. Die ad-hoc-komitee bestaan uit agt raadslede, een amptenaar van elke direktoraat by die munisipaliteit asook die senior bestuurder: kontrakte en regsdienste. Die komitee word deur die burgemeester, Chad Louw, gelei en moet datums vir terreinbesoeke en vergaderings met Kwant en sy afvaardiging belê. Louw moet ook met die Wes-Kaapse departemente van maatskaplike ontwikkeling en kultuursake en sport skakel vir steun met befondsing, programme en bystand aan die huis.
‘Ons vra inwoners se hande, voete, liefde en tyd’
Kwant het in ’n gesprek later die dag met die plaaslike pers gesê as die kinderhuis-projek op Oudtshoorn suksesvol kan wees, kan dit ’n model word wat deur ander gevolg kan word.
Volgens hom staan mense van hul kerk in Johannesburg gereed om op Oudtshoorn te kom help.
“Ons het ook die steun van kerke en inwoners op die dorp nodig – ons vra mense se hande en voete en liefde en tyd om met die kinders te kom help. Ons het ook inwoners se kundigheid nodig.”
Hy sê sedert hulle by die bestuur van die kinderhuis betrokke geraak het, is baie aandag daaraan geskenk asook aan streng finansiële beheer.
Nou wil hulle graag fokus op die ontwikkeling van die kinders.
“Ons wil die seuns op die langtermyn bystaan. Terwyl hulle jonk is, sal ons hulle graag basiese vaardighede wil leer, maar ons sal hulle later ook ambagvaardighede wil leer sodat hulle wanneer hulle 18 of 19 of 25 jaar oud is, nie weer huisloos sal wees nie. Dit is ’n volgende stap wat ons dink belangrik is.”
• Die El Roi Child and Youth Care Centre – voorheen Huis Triomf – is tans geleë in Wagenaarstraat 1, ’n eiendom wat aan die munisipaliteit behoort. Die sentrum word bedryf as ’n nie-wins- gewende organisasie (NPO) en is afhanklik van befondsing van die departement van maatskaplike ontwikkeling en bydraes uit die privaatsektor, met die Barn Christian Fellowship as die grootste bydraer, ook ten opsigte van die daaglikse bestuur van die sentrum. Die kerk is ook betrokke by ’n internasionale sendingorganisasie wat ’n plek soek om ’n jaarlikse opleidingsprogram van drie maande aan te bied. (Deur Liesel le Roux)
Pleidooi aan die Oudtshoorn-raad: Help ons die seuns uit onmenslike toestande verwyder
Past Roelof Kwant.
Foto: Stefan Goosen