DIE Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ná jare besluit om ’n polisiegeneraal vir crimen injuria te vervolg weens die beweerde vernedering van kapt Riana Stander (voorheen Viviers) in November 2016 by die Oudtshoorn Polisie-akademie.
Luidens ’n persverklaring van AfriForum het die beweerde misdryf plaasgevind toe die beskuldigde die akademie besoek het en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor Stander en ander opleidingsbeamptes se voorkoms gemaak het.
Die beskuldigde het na bewering beveel dat Stander en ander beamptes op ’n verhoog moes staan en daarna beledigende opmerkings gemaak oor Stander se kleredrag, gewig en velkleur onder toejuiging van die rekrute. Sy het onder meer haar eie vraag rakende wat fout was met die mense op die verhoog beantwoord deur te sê dat hulle te wit is.
Stander het in November 2016 ’n klag ingedien. Sy is intussen medies ongeskik verklaar, hoofsaaklik as gevolg van die trauma en spanning wat dié insident veroorsaak het, en nie meer in diens van die SAPD nie.
Nadat die vakbond Solidariteit druk op die SAPD uitgeoefen het, is ’n interne tugverhoor oor die beskuldigde se optrede in 2018 gehou. Daartydens is bepaal dat die beskuldigde se kommentaar oor Stander en ander beamptes rassisties, diskriminerend en neerhalend was, en is sy in 2019 uit haar amp ontslaan.
Die uitslag van die tugverhoor het ook aangedui dat die beskuldigde ’n oneer- like en ongeloofwaardige getuie was.
Dié bevinding is egter tydens ’n arbitrasieproses omgekeer en was die generaal weer in diens van die SAPD.
Volgens die persverklaring van AfriForum het die NVG geweier om vervolging in te stel waarna AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 deur Solidariteit en Stander genader is om die beskuldigde privaat te vervolg. Die Direkteur van Openbare Vervolging in Kaapstad (DOV) het aanvanklik aangedui dat daar nie prima facie-bewyse vir klagtes van crimen injuria teen die beskuldigde was nie, maar toe die privaatvervolgingseenheid in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-sertifikaat versoek om privaat te vervolg, het die NVG versuim om gehoor te gee aan wetgewing wat hulle verplig om só ’n sertifikaat uit te reik as die staat besluit om nie te vervolg nie.
Ná vele skrywes en druk op die NVG het die DOV uiteindelik op 28 Maart 2022 aangedui dat die staat wel die beskuldigde gaan vervolg. Die DOV skryf aan die privaatvervolgingseenheid dat hulle die klaer (Stander) sal kontak “indien haar getuienis in die hof benodig sou word”.
Volgens adv Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, wil dit voorkom of die SAPD en die NVG alles in hulle vermoë gedoen het om die vervolging van die beskuldigde te vertraag. “Die SAPD het byvoorbeeld hul voete gesleep om die dossier aan die klaer te verskaf en die NVG se weiering om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik, spreek boekdele. Ons sal voortgaan om die saak te moniteer om te verseker dat vervolging wel plaasvind sodat geregtigheid kan geskied.”
Volgens Stander is sy verheug dat die saak uiteindelik voor die hof gaan kom. “Ek is vol vertroue dat reg en geregtigheid nou onder die wakende oog van AfriForum se privaatvervolgings- eenheid sal geskied.”
Generaal ná jare aangekla
