R100 000-skenking vir Kansa

Christiaan Esterhuyse (links) van Ruwacon en Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa in die Suid-Kaap, met die tjek van R100 000. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE 36One MTB Challenge-bergfiets­wed­ren die afgelope naweek op Oudts­hoorn het nie net vir groot aksie gesorg nie, maar ook ’n bietjie liefdadigheid met een van die spanne, Ruwacon, wat R100 000 aan die Suid-Kaap-tak van die Kanker­vereniging van Suid-Afrika (Kansa) geskenk het.

Volgens Adri Odendaal, gemeenskaps­mobili­seerder van Kansa Suid-Kaap, is dit vir haar “fantasties” dat instansies soos Ruwacon Kansa onbaatsugtig ondersteun. “Hulle het selfs vir hulle spesiale fietsryhemde laat maak vir die 36One! Agter op hul hemde was die name van mense wat veg teen kanker, wat hul stryd verloor het of wat in remissie is onder die fighters-, heroes- en survivors-kategorieë,” sê sy.

Odendaal sê die skenking sal Kansa help om hul dienste in die gemeenskap voort te sit. Dit behels onder meer pasiëntesorg en -ondersteuning; ondersoeke of siftingstoetse om kanker vroegtydig op te spoor of te voorkom; opvoeding oor kanker en Kansa; befondsing van verskillende ondersteu­ningsgroepe; aankoop van mediese toerusting soos rolstoele, loopringe, “eier’-matrasse, doeke, melk, ensovoorts en die verskaffing van pruike.

Christiaan Esterhuyse van Ruwacon sê die maatskappy se oorspronklike doelwit was om R90 000 in te samel, “maar die fondsinsame­ling het so goed gegaan dat ons R100 000 ingesamel het!”

Volgens Esterhuyse gebruik hulle graag sulke wedrenne om blootstelling te skep vir mense wat teen kanker stry of gestry het. (Deur Stefan Skapie Goosen)