
’N TRAGEDIE het Sondag 16 April, in De Hoop afgespeel na nog ’n kind verdrink het.
Inligting oor die voorval dui daarop dat die 3-jarige Jaden Ewerts, wat teen die kanaal woon in die water geval het.
Sy ouers, wat die middag gerus het nadat hul vroeër vanaf ’n begrafnis gekom het, was onder die indruk dat Ewerts by sy ouma, sowat vier huise van hul eie huis af was. Toe hulle egter agterkom dat hy nie daar is nie, het hulle na hom begin soek.
Sy liggaam is sowat 4 km van sy huis gekry, waar dit teen ’n sif vas gespoel het.
Volgens Leon Campher, Oudtshoorn raadslid en gemeenskapsleier is hierdie ’n dubbel tragedie vir sy ouers, wat hul 3 maande oue baba verlede jaar aan natuurlike oorsake aan die dood afgestaan het.
Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het in ’n verklaring aan Die Hoorn gesê dat die Ewerts sowat 18:40 weggeraak het.
“Sy liggaam is in die water, 23:20 dieselfde aand gevind,” se hy.
Volgens Spies word die saak deur die Oudtshoorn-polisie ondersoek en ’n geregtelike doods-ondersoek dossier is geopen.
Die Hoorn het in Desember 2022, met Charl van der Merwe, operasionele bestuurder en Willem Fourie, bestuurder van die Stompdrift Kammanasie Watervereniging (SKWV) oor die veiligheidskwessie gesels.
Tydens die gesprek het dit aan die lig gekom dat die grootste kopseer die talle huise is wat naby die kanaal geleë is. “Toe die kanaal in 1925 gebou is, was daar nog geen teken van enige woonbuurte,” het van der Merwe gesê.
Die kanaal strek vanaf die Stompdrift-, en Kammanasiedam tot by die Calitzdorp Hot Springs.
Die kanaal is sowat 135 km lank, en word deur oppassers beman, wat hul bes doen om te verhoed dat kinders in die kanaal beland. Ongelukkig is dit ’n moeilike taak omdat die kanaal so lank is, en daar nie genoeg mannekrag is om die hele area 24 uur onder oë te hou nie.
Die SKWV het sowat drie weke voor die tyd al begin kennisgewings opsit.
Die Hoorn het self op Facebook meer as een kennisgewing geplaas, sodat inwoners vroegtydig gewaarsku kan word.
Volgens Willem Fourie, bestuurder van die SKWV verstaan hy dat dit moeilik is om kinders uit water te hou, veral as dit baie warm is en die water ’n heerlike lafenis bied teen die hitte. “Ek wil egter ’n beroep op ouers doen, dat wanneer daar wel water in die kanaal is, ouers asseblief ekstra op hul hoede moet wees en seker maak kinders is veilig,” sê hy.
Op nog ’n inskrywing op Facebook het ’n vrou gevra of die polisie nie kinders uit die kanaal kan kom haal wat in die water speel nie. Die inskrywing wat op ‘Oudtshoorniete staan saam’ geplaas is, lees as volg: “Bekommerde moeders van die kanaal soek hulp, ons sukkel met die ongehoorsame kinders teen die kanaal, as ons hul huise toe jaag, hardloop hulle net opper teen die kanaal om daarin te swem. Ons vra net groot asseblief as die polisie nie asb hul wil kom waarsku of net wil kom patrolleer nie, ons het ’n geval vandag gehad, ’n mammie wat nie eens kan swem nie, moes inspring om haar kind te red…want as ’n insident gebeur word dit gevra waar die mammies is, maar die kinders luister nie, dus ons dink die polisie sal hul afskrik, want kinders luister nie, groot asseblief, iets moet gedoen word, dus by die varkhokke se kant. Asb”.
Van die kommentaar op die inskrywing het gevra dat die kanaal omhein moet word of met betonblokke toegemaak word.
“Ons het al voorheen ’n heining opgesit om die kanaal te beveilig, maar hierdie heinings word bloot net afgesteel deur booswigte,” verduidelik van der Merwe en Fourie.
Die sement infrastuktuur word ook deesdae beskadig, veral op brûe. Dit word stukkend gekap om staal uit te breek en verkoop. Betonblokke sal dus ook nie ’n oplossing wees nie.
’n Kransleggingseremonie word beplan vir vandag 14:00 op Welbedacht Plaas in De Hoop, waar Ewerts verdrink het. Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Hierdie is die 3de kind wat in drie jaar verdrink het. In 2021 het Rudicia (Janalene) Gelant (9) by Dysselsdorp in die kanaal geval. Haar liggaam is sowat 15 km verder gevind.
Op 19 November 2022, het Christopher Campher (4) van Bongolethu in die sloot beland. Sy liggaam is by die brug net buite Oudtshoorn gevind, ’n paar kilometer van waar hy ingeval het. (Deur Angelique Erasmus)