

JADEN Campher (16) Aurial Kollage leerling en kranige fietsryer, het verlede Dinsdag 11 April, op die Safaripad buite Oudtshoorn, teen ’n stilstaande leerlingtrokkie gebots.
Hy en ’n ander spanlid, wat deur Corné Serfontein van Cycle Addict afgerig word, was hard aan die oefen toe die ongeluk gebeur het.
Volgens Jaden was hulle besig om hard te ‘pace’. Hy het afgekyk na die pad terwyl hy konsentreer, en toe hy opkyk was die trokkie voor hom.
“Daar was nie eers kans om uit te swaai nie,” het hy gesê.
Die impak was so hard dat hy bo op die bak geland het.
Paramedici was vinnig op die toneel om vir Jaden te help.
Hy is na die Oudtshoorn Hospitaal geneem, en die volgende dag na die George Hospitaal oorgeplaas.
Jaden het sy arm gebreek, en moes ’n operasie ondergaan om die been met plate en skroewe te heg.
Hy is Dinsdag geopereer en sterk tans by die huis aan.
Hy het ook 3 van sy tande verloor, en is dit later ook bevestig dat hy sy kakebeen gebreek het.
Volgens Corné Serfontein, het hulle ongelooflik groot geskrik.
“Ons is net so dankbaar dat die trokkie oop was agter, en hy op die bak kon val. Hy kon dood gewees het, of selfs breinskade as dit ’n toe trokkie was,” vertel sy.
Jaden is vanjaar opgeneem in die Kinetic Fietsryspan van Kaapstad, en sou later die jaar saam met die span na Nederland, in Europa, reis waar hulle aan ’n fietswedren sou deelneem.
Hy sal ongelukkig nog nie teen daardie tyd genoeg herstel het nie, en sal uitmis op die toer.
Behalwe vir die toer wat in die slag gebly het, het sy fiets, wat aan hom geleen word, ook so erg skade opgedoen, dat dit nie herstel kan word nie.
Die raam het heeltemal gekraak.
“Ons het ’n recyle bin by die winkel. Klere word vir ons gebring, wat ons verkoop om so fondse in te samel vir ons fietsryers wat ek afrig,” vertel Serfontein.
Alle fietse, parte, klere, inskrywings, dienste en selfs iets te eet en drink by fietswedrenne word so deur hierdie geld betaal.
“Wanneer die fondse laag is, klim ons maar self in en betaal uit ons sak, maar dit is vir my belang- rik dat hierdie kinders met ongelooflike talent blootstelling kry, en soos Jaden, dalk raakgesien word deur ’n klub wat hulle na verdere hoogtes neem,” se sy.
Hou ook ’n oog uit vir wanneer daar fondsinsamelings vir haar kinders gehou word, soos Serfontein na hulle verwys.
Sy is inderdaad soos ’n ma vir hulle. Om betrokke te raak, of Jaden te help, of selfs skenkings, kontak gerus vir Corné Serfontein by 084 527 9622. (Deur Angelique Erasmus)