OUDTSHOORNIETE is in vir ’n ding, met die bekende sanger en musikant Juan Boucher (38) wat hier kom optree.
Die konsert vind Vrydag 30 Junie 2023, by Hoërskool Oudtshoorn in Voortrekkerweg plaas.
Boucher is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, wie se musiek reeds meer as 13 miljoen keer gekyk en gestroom is.
Hy het bekendheid verwerf vir sy trefferliedjies soos “Kalm voor die storm” en “Onthou jy om jonk”.
Sy musiek het ook al telkemale die nommer een posisie op verskeie radiostasies bereik.
Boucher het niks minder nie as 9 goue- en platinumverkoper ateljee-albums en spog ook met sy eie klerereeks Bouch-Klere, vir diegene wat daarvan hou om gemaklik maar steeds in die mode te wees.
“Musiek is ’n geskenk van bo en ek is so geseënd om te kan sing en skryf,” sê hy. “Ek is op my gelukkigste as my liedjies mense laat glimlag en is lief vir die lewe, liefde en mense.” vertel Boucher. Die sanger van Vereeniging in Gauteng se stem word as innemend en strelend beskryf.
Boucher het oor die afgelope twaalf jaar bekend geword vir sy vermoë om te kan wissel tussen opgewekde dansmusiek en treffende rock-ballades, maar deur die verskillende genres word die tema van liefde konstant herroep. Deur sy musiek dra Juan sy hart op sy mou en deel hy amper outobiografies stories van nuwe liefde, teleurstelling en soms verlies.
Boucher sing gereeld voor uitverkoopte gehore regoor die land.
Byron Minnie, Oudtshoorn se eie, gaan konsertgangers vermaak met sy unieke stem en eie trefferliedjies.
Daar is nog kaartjies beskikbaar by Die Hoorn se kantoor, Hoogstraat 157.
Kaartjies sal ook by die deure verkoop word vir persone wat dalk nie betyds by die kantoor kan uitkom nie.
Heerlike platters met onder andere beskuitjies, kaas en selfs groenvye sal tydens die vertoning te koop aangebied word.
Kaartfasiliteite is beskikbaar by die kroeg, asook vir kos- en kaartjieaankope.
Kontak 076 606 2554 vir meer inligting of om kaartjies te bespreek. Kom dans saam op Afrikaans!
Kom dans op Afrikaans
Juan Boucher, bekende sanger en liedjieskrywer is Vrydag by Hoërskool Oudts-hoorn te sien waar hy van sy gewildste trefferliedjies gaan sing. Kom dans op Afrikaans met trots aangebied deur Die Hoorn. Foto verskaf