MET die jaarlikse verhoging van munisipale tariewe vanaf 1 Julie te midde van reeds uitdagende ekonomiese toestande sal inwoners van die Groter Oudtshoorn die briek nog meer moet aandraai.
Die Groter Oudtshoorn-raad het Maandag die 2022/2023-begroting asook die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP), die plan vir wat die munisipaliteit in die begrotingsjaar moet doen, eenparig goedgekeur. Die munisipale organogram, ’n uiteensetting van die personeel wat die GOP moet uitvoer, is ook goedgekeur.
Oudtshoorniete kan hulle gereed maak om vanaf 1 Julie 7,47% meer te betaal vir elektrisiteit (onderhewig aan goedkeuring deur Nersa), 12% meer vir vullisverwydering en 10% vir eiendomsbelasting. Die tarief vir water styg met tussen 6% en 7,5% afhangend die skaal van verbruik, terwyl die jaarlikse riooltarief vasgestel is op R2974 (sowat R248 per maand vir wonings).
Inwoners sal nie meer per toilet betaal nie.
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het met sy voorlegging van die begroting daarop gewys dat dit onder uitdagende omstandighede opgestel is met groot druk op die ekonomie en die gevolge van die Covid-19-pandemie.
“Die verval van infrastruktuur, veral watertoevoerpype en paaie in die ouer dele van die munisipaliteit, het ’n kritieke stadium bereik en ’n groot belegging in die opknapping daarvan is nodig om ’n totale ineenstorting van dienste te voorkom. Dringende ingryping ten opsigte van waterinfrastruktuur, paaie en elektriese infrastruktuur was ’n begrotingsprioriteit.
Louw het gesê die aanbring van infrastruktuur is noodsaaklik vir langtermyn finansiële volhou-baarheid. “Die Oudtshoorn gemeenskap het die reg op betroubare dienslewering en die doeltreffende aanwending van finansiële hulpbronne bly die sleutel tot die uitvoering van ons mandaat en om die finansiële welstand van die munisipaliteit te verseker.
“Die Oudtshoorn-gemeenskap het egter ook ’n verpligting om die munisipaliteit by te staan en te verseker dat finansiële en ander hulpbronne nie vermors word nie.”
Bedryfsbegroting - klem op steun vir behoeftiges, bejaardes en gestremdes
Die bedryfsbegroting beloop R735144400, ’n styging van 9,59% sedert 2021/2022. Luidens ’n persverklaring het die munisipaliteit met inkomstebronne onder druk geen ander keuse gehad nie as om tariewe vir 2022/2023 te verhoog in ooreenstemming met operasionele vereistes en ander faktore wat prysstygings en die koste van die dienslewering beïnvloed nie.
Daar is egter in vanjaar se begroting klem daarop gelê om behoeftiges te ondersteun deur spesiale deernistariewe, asook spesiale tariewe vir mense bo 60 jaar en gestremdes.
Deernissubsidies vir huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van R4 000 of minder behels onder meer kostelose vullisverwydering- en riooldienste asook 6 kl gratis water en 50 eenhede gratis elektrisiteit.
Die kapitaalbegroting
Die totale kapitaalbegroting vir 2022/2023 beloop R92 miljoen met die fokus op waterinfrastruktuur (R46 800 200); elektrisiteit (R5 450 000); sanitasie (R750 000); padinfrastruktuur (R12 489 800); sport- en ontspanningsfasiliteite (R18 500 200); gemeenskap en sosiaal (R1 166 000); en “ander” (R6 891 000).
Fondse vir die kapitaalbegroting word grotendeels van die nasionale en provinsiale regerings verkry, naamlik R60,3 miljoen, terwyl die munisipaliteit R10,9 miljoen uit eie inkomste sal bydra en ’n lening van R20,7 miljoen sal aangaan vir groot infrastruktuuropknapping.
Belangrike kapitaalprojekte sluit grootskeepse vervanging van elektriese infrastruktuur, opgrade-ring van paaie en vervanging van waterpype in, asook ’n nuwe toewysing van regeringsfondse van R10 miljoen vir die opgradering van die Bongolethu Sportgronde en finale fase van die Blossoms-pyplyn.
• Begrotings- en GOP-dokumente is beskikbaar by http://www.oudtshoorn.gov.za. (Deur Liesel le Roux)
Kollig op deernis en infrastruktuur
Raadslede tydens raadsvergadering Foto: Liesel le Roux