Meer as 20 beset steeds toeristeoord

Die Bridgton Chalets wat in ’n slegte toestand is. Foto verskaf

ONDANKS ’n dringende Hooggeregs-hofbevel wat verlede Donderdag (2 Junie) aan die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit toegestaan is en mense verbied om enige munisipale eiendom te beset of te beskadig, het ’n groep van meer as 20 hawelose mense Dinsdag (7 Junie) steeds die Bridgton Toeristeoord op Oudtshoorn beset.

Die groep, wat vyf families insluit, beset van die chalets by die oord sedert verlede Maandagaand (30 Mei).

Die munisipaliteit ondersoek tans alternatiewe maniere om die situasie te beredder, sê Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit.

Mle sê die groep het verlede Maandag die munisipaliteit se menslike nedersettingskantoor in Asstraat, Bridgton, besoek en geëis dat blyplek by die toeristeoord aan hulle gegee moet word totdat die munisipaliteit alternatiewe blyplek vir hulle kan verskaf. “Hulle sê hulle is agterplaasbewoners wat ’n paar weke gelede sonder enige kennisgewing deur huiseienaars uitgesit is en daarna op verskillende plekke moes slaap.”

Volgens Mle het die munisipaliteit verduidelik dat hulle nie mense kan toelaat om op ’n besigheidsperseel te woon nie en is die groep aangemoedig om uit te reik na gesinne en gemeenskapsorganisasies vir alternatiewe skuiling.

Nadat die chalets beset is, het die munisipaliteit hom na die Hooggeregshof gewend en aansoek gedoen om ’n hofbevel teen die besetting en beskadiging van alle munisipale eiendom.

In die interdik word sewe mense by name genoem, maar dit geld ook vir “alle ander mense… wat beoog of dreig om munisipale eiendom te beset, toegang daartoe te belemmer of dit te be­skadig en munisipale werknemers te intimideer, teister of aan te rand.”

Die sewe mense wat as respondente in die hof­stukke genoem word, het tot 26 Augustus tyd om te reageer.

Besetting en beskadiging van allemunisipale eiendom onwettig

Dié Hoogeregshofuitspraak kan in die toekoms ’n belangrike invloed hê op die besetting en beskadiging van enige munisipale geboue en eiendom.

Die lys van munisipale eiendom wat deur dié hofuitspraak teen besetting en beskadiging be­skerm word, sluit ook die begraafplase, sportterreine, munisipale swembaddens, klinieke, bib­lioteke, sale, die ovaalbaan, lughawe en nog meer in. (Deur Liesel le Roux)