SY is soos jou dronk tannie op troues – almal praat van haar, maar tog word sy steeds genooi omdat almal van haar hou.
Sy gee nie om wat mense van haar dink, of dat sy gereeld die skindertonge laat klap nie.
Sy is wie sy is, en die wag voor haar mond het lankal bedank en die pad gevat.
Wynand Kotze (29) of “Wyn vir die Pyn”, soos hy bekendstaan op sosiale platforms soos TikTok, kom Oudtshoorn toe, en is nie net in een vertoning as die bekende Tollie Parton te sien nie, hy speel in drie verskillende stukke by vanjaar se KKNK.
Sy eerste vertoning is as die gewilde fopdosser Tollie Parton, wat op 3 en 4 April op die planke is by Oudtshoorn se burgersentrum.
Vir dié wat nog wonder, Tollie het meer as twee miljoen “likes” op TikTok alleen.
Die ander toneelstukke waarin hy te sien is is My hart is ’n Muurbal (en ander gedagtes), wat van 3 – 5 April in die Griesselsaal opgevoer word; en Bul (5 tot 9 April in die Van Reedesaal).
Die Hoorn het met Kotze gesels oor die karakter Tollie.
Hy vertel dat Tollie se twee groot heldinne die Country-sangeres Dolly Parton en Suid-Afrika se eie blonde bom Paticia Lewis is.
“Patricia het al ’n paar van my video’s “ge-like”, so ek is seker sy weet dat sy vir Tollie inspireer,” vertel Kotze met ’n glimlag.
“Tollie is baie lief daarvoor om met haarself te spot en sy pas glad nie in enige boksie in nie. Soos die gesegde lui, as jy nie die hitte kan hou nie, bly uit die kombuis uit…veral uit Tollie se kombuis uit.”
“Sy is “daai” laaste tequila-shooter wat jy drink en wat maak dat jy nie omgee wat mense dink of sê nie, en somtyds ook nie kan onthou wat jy gesê het nie,” skerts hy.
Kotze, oorspronklik van Van Rhynsdorp op die Weskus, of soos Kotze dit noem, die “Poorte van Namakwaland”, weet hoe dit voel om as ’n konserwatiewe Afikaner groot te word.
“Tollie rebelleer teen hierdie konserwatiewe boksies waarin die samelewing verwag ons moet pas.”
“Ons leef lankal nie meer in ’n tyd waar mense ons kan voorskryf en ons op eiers hoef te loop nie,” verduidelik hy.
Volgens hom neem Tollie haarself beslis nie ernstig op nie, dus moet mense wat na haar vertonings kom kyk haar ook nie ernstig opneem nie.
“Ek is die punch line en dis lekker as mense vir my lag.”
Daar is so baie dinge wat Tollie sê en doen wat bekend is, maar mense is soms te bang om daar-oor te praat of die onderwerp aan te roer.”
Tollie waarsku egter dat die vertoning beslis nie vir kinders is nie en dat daar liefs nie enige o.18’s vir Tollie Parton moet kom kuier wanneer sy Oudtshoorn se mense gaan laat skaterlag nie.
Hier kom Tollie
Wynand Kotze, ook bekend as ‘Wyn vir die Pyn en die skreeusnaakse Tollie Parton kom na die KKNK toe. Foto verskaf