DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n klagte van moord teen ’n 47-jarige man nadat ’n 60-jarige man dood verklaar is op die toneel van ’n padblokkade Dinsdag (21 Maart). Die man het gesterf na ’n steekwond onder sy linkerarm.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die polisie, het die voorval omstreeks 11:58 op die Dysselsdorp/De Rust-pad naby Rosevalley, Oudtshoorn plaasgevind.
Michaels sê ’n voertuig met twee insittendes het na bewering by die padblokkade gestop en het die bestuurder van die voertuig gesê sy passasier is beseer en dat hy met hom op pad was hospitaal toe.
“Ambulanspersoneel was op die toneel en het die 60-jarige man dood verklaar. Daar was ’n steekwond onder sy linkerarm,” sê Michaels.
Sy het die oorledene as Abraham Johannes Heradien geïdentifiseer
Die polisie het hierna die 47-jarige verdagte op ’n klagte van moord in hegtenis geneem.
Hy verskyn vandag (Donderdag, 23 Maart) in die Oudtshoorn Landdroshof.
In ’n plasing op die Facebook-blad Oudtshoorniete Staan Saam skryf Leon Campher, aktivis en raadslid van die Oudtshoorn Munisi- paliteit, hy het op die toneel afgekom nadat hy ’n kranslegging bygewoon het.
“Ek het voor 14:00 vanmiddag vir kranslegging van Sereef Platjies Oudtshoorn toe gery en by ’n polisie-roadblock naby Johnson’s Bricks Forensies sien staan en stretcher uithaal, maar ek was onbewus ’n man wat vermoor is, was in die wit kar,” lui sy plasing.
Volgens Campher het hy verneem die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem.
Die polisie het nie hierdie inligting verskaf nie.
“ ’n Doodgewone man van 60 jaar oud is vermoedelik met ’n mes gesteek en het in die kar gesterf.
Watter rede kan daar wees. Liewe Here wees asseblief met ons,” het Campher se plasing geeïndig. (Deur Stefan Skapie Goosen)
60-jarige dood verklaar by padblokkade
