DIE waarnemende munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Walter Hendricks, sê die munisipaliteit het nie vooraf kennis gedra van die betoging in Black Joint wat op Vrydag, 10 Maart plaasgevind het nie. Tydens die betoging het inwoners van hierdie gemeenskap asook die GG Kamp en Kanaal betoog deur bande en ander voorwerpe te brand en klippe in die pad te pak.
Die Hoorn het in die uitgawe van 16 Maart berig dat inwoners se redes vir die betoging volgens Devon Julies, ’n woordvoerder vir die gemeenskappe, onder meer te doen gehad het met dienslewering, kwessies oor die chemiese toilette en beloftes oor materiaal vir behuising wat nie deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en wyksraadslid nagekom is nie.
Hendricks sê die munisipaliteit het eers na die tyd uitgevind van die betoging.
“As dit kom by behuising, doen die munisipaliteit slegs die administrasie vir behuisingsbehoeftes, maar voorsien nie self die huise nie,” het hy in verband met behuisingskwessies geantwoord.
Gesubsidieerde behuising is sedert 2020 nie meer ’n munisipale funksie nie en word op nasionale vlak bepaal en via die provinsies geïmplementeer.
Rakende hul probleme met die chemiese toilette in hul gemeenskappe sê Hendricks dat enige chemiese toiletkwessies onder die aandag van die Behuisingsafdeling gebring moet word.
“Toilette word volgens Bidvest se skedule vir die skoonmaak van chemiese toilette in Black Joint, GG Kamp en Kanaal geskeduleer vir elke Donderdag,” sê Hendricks.
In reaksie op inwoners se klagtes oor materiaal vir behuising sê Hendricks dat die munisipaliteit kennis dra daarvan dat materiaal aan lede van die publiek wat skade gelei het gedurende die onlangse stormreën verskaf moet word.
“Assesering word nog gedoen en nog materiaal is aangekoop om in die behoefte te voorsien. Ons vra die publiek om asseblief geduldig te wees aangesien ons nog wag op die bestelde materiaal.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Behuising nie meer deur munisipaliteite bepaal
Die toneel waar inwoners van Black Joint, GG Kamp en Kanaal in Oudtshoorn op 10 Maart brandende voorwerpe en klippe in die pad geplaas het. Foto: Stefan Skapie Goosen