EFF-optog: Slegs sowat 30/40 deelnemers op Oudtshoorn

Bo: Optoggangers buite die munisipaliteit. Onder: Brig Susan Crafford van die Oudtshoorn Polisie ontvang die memorandum van EFF-verteenwoordigers. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

SOWAT 30 tot 40 mense het Maandag vreedsaam aan die EFF se nasionale Total Shutdown-optog na die munisipale gebou in Voortrekkerweg op Oudtshoorn deelgeneem.

Hier het ’n klein groep EFF-ondersteu­ners onder die wakende oog van die plaaslike polisie en openbare polisiërings­eenheid ’n memorandum aan brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder van die Oudtshoorn Polisie, oorhandig.

Die slagspreuk “Ramaphosa must go” het ook op Oudtshoorn weergalm. Volgens die EFF is dit pres Cyril Ra­maphosa se onbevoegdheid as leier van Suid-Afrika wat die land is sy huidige toestand laat beland het.

Qhayiya Mngenela, voorsitter van die Oudtshoorn EFF Student Command (EFFSC), was die vreedsame optog deel van die nasionale beweging.

“Ons het vandag van Bongolethu na die munisipaliteit gestap om ons memorandum te oorhandig.

Ons eise stel dit duidelik dat ons wil hê die president, Cyril Ramaphosa, moet uittree uit sy posisie; dat ons ons elektrisiteit wil terughê; en dat ons dienslewering benodig van die DA-regering wat aan die hoof van Oudts­hoorn staan,” het hy gesê.

Op ’n vraag van Die Hoorn of Mnge­n­ela dink dat die EFF se optog op Oudts­hoorn suksesvol was, het hy gesê “nie rêrig nie.”

“Ons het om middernag met ons optog begin, en rondom die dorp beweeg. Die polisie het saam met ons beweeg. Maar die mandaat van die nasionale optog, wat verg dat ons van 00:00 tot 00:00 betoog, word belemmer deur die polisie se teenwoordigheid.

“Hier is studente teenwoordig sonder enige wapens, maar ons word gedreig deur die polisie dat hulle teen ons sal optree as ons verder betoog. Geen besigheid of iets anders was veronderstel om vandag bedryf te word nie, maar die polisie het ons omring en ons kan niks doen nie,” het hy gesê.

Daar was Maandag byna meer polisiebeamptes as EFF-ondersteuners, wat volgens Mngenela nie net van Oudtshoorn afkomstig was nie maar van elders ook, op die toneel. Mngenela het beklemtoon dat dit ’n vreedsame betoging was en geen plundery of beskadiging van eiendom ter sprake was nie. “Ons missie is om op te staan vir die inwoners van die land,” het hy bygevoeg.

Die memorandum het die munisipaliteit 14 dae gegee om daarop te reageer. Burgemeester Chris Mac­pher­son het egter geweier om die memorandum te aanvaar, omdat dit volgens hom met nasionale kwessies te doen het waaroor die munisipa­li­teit geen beheer het nie. Daarom is dit deur brig Crafford ontvang.

Mngenela het gemaan dat diens­lewering wel die verantwoordelik­heid van die muni­sipaliteit is.

“Dit was baie teleurstellend dat die burgemeester nie die memorandum aanvaar het nie, hy is immers die eerste burger van die dorp. Die mense van Oudtshoorn het die EFF nodig om vir hulle te baklei.”

Navrae aan die Oudtshoorn Poli­sie rakende inhegtenisnames later die aand op Oudtshoorn tydens ’n insident waarin die EFF-groep betrokke was, asook oor wat met die memorandum gaan gebeur of aan wie dit gestuur sal word, was teen druktyd nie beantwoord nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)