Borgtog vir vermoorde se stiefbroer geweier

DIE Oudtshoorn Landdroshof het Maandag borgtog geweier vir Herman Redelinghuys (23) wat saam met nog twee verdagtes van die moord op sy stiefbroer, Jacques Lie­benberg (24), aangekla word.

Liebenberg se liggaam met veel­vul­dige steekwonde is op 12 Januarie deur polisiebeamptes van Dysselsdorp langs die Kammanassie-pad ge­vind. Drie verdagtes is die volgende dag in hegtenis geneem.

Redelinghuys het in sy aansoek die hof meegedeel dat die bekentenis wat hy afgelê het nie deur die hof aanvaar kan word nie omdat hy dit nie uit vrye wil gedoen het nie.

Hy het die hof meegedeel dat hy onskuldig sal pleit. Hy het geen vo­rige veroordelings of hangende sake teen hom nie. Hy voel dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word.

Die staatsaanklaer, Nosipho Maka­na, het borgtog teengestaan in die lig van die erns van die klagte.

Sy het gesê sy vrees dat die applikant van die staatsgetuies wat gesien het dat hy sy twee medebeskuldigdes in sy motor oplaai, sal probeer beïnvloed. Hy kan lewenslange gevangenisstraf kry indien hy skuldig bevind word. Daar is ook ’n moontlikheid dat hy nie hof toe sal kom vir sy verhoor nie. Sy het ook gesê ’n bekentenis is nie ter sprake nie omdat dit slegs ’n borgaansoek was.

Die staat voer verder aan dat Liebenberg se moord beplan was en dat Redelinghuys sy twee medebe­skuldigdes, Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs, elk R750 belowe het. Voorts is die ondersoek ook nog nie afgehandel nie.

Redelinghuys se regsverteenwoor­diger, adv Benito Metembo, het in sy betooghoofde wat skriftelik aan die hof verskaf is, versoek dat borgtog toegestaan word omdat sy kliënt ’n eerste oortreder is, oor ’n vaste adres beskik en nie ’n vlugrisiko is nie.

Landdros Vaughn Stone het met sy uitspraak gesê dit is ’n bylae 6-aansoek en dat die beskul­digde nie daarin geslaag het om te bewys dat dit in belang van geregtigheid is om vrygelaat te word nie.

Die hof het ook ’n petisie teen borg ontvang met meer as 500 hand­tekeninge.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 April uitgestel.

Dit is onduidelik of Redelinghuys se twee medebeskuldigdes van voorneme is om aansoek om borgtog te doen. (Deur Garnett Wicomb)