
OUDTSHOORN se Brian Daniels het Maandagaand ’n verwelkoming soos min op Oudtshoorn ontvang toe hy na ’n staptog van byna 440 km teruggekeer het huis toe. Hy is by die ingang vanaf Calitzdorp deur groot getalle opgewonde Oudtshoorniete soos ’n held verwelkom met ’n groot gejuig en talle mense wat hom omhels het.
Ao Daniels van die Oudtshoorn Polisie het op 14 September op Oudtshoorn weggespring op dié staptog na Kaapstad om fondse in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal.
Daniels het voor en tydens sy uitmergelende staptog kaartjies verkoop om geld in te samel vir ’n bydrae tot die kinderhospitaal se trust.
Hy het Dinsdag gesê sy wegspring op Oudtshoorn was ’n oorweldigende oomblik, want dit was die verwesenliking van ’n jarelange droom.
“My droom het daardie dag uiteindelik waar geword, en die ondersteuning van my kollegas was wonderlik!”
Die lang afstande wat hy elke dag moes aflê, het egter sy voete gelooi. “Die eerste paar dae het baie goed gegaan, maar toe ek Worcester tref, kon ek nie meer die pyn in my linkervoet verduur nie,” vertel hy.
Volgens hom was dit so erg dat hy ’n dokter daar moes spreek en twee dae moes rus, met van sy kollegas wat verder namens hom tot in Kaapstad gestap het. “Dit was moeilik om by die dokter te hoor dat ek ’n paar dae moes rus, en net so moeilik om dit te aanvaar. Uiteindelik het ek my beste gegee, maar ek moes na die dokter luister.”
Hy bieg dat foto’s wat die dokter van sy voete geneem het die realiteit van hoe erg hulle beseer was, by hom tuisgebring het. Die kleintoontjie van sy linkervoet is die ergste beseer.
“Dit was pynlik op die pad, maar ek het dit probeer ignoreer en deurdruk om my doel te bereik. Maar toe die dokter sê dat ek moontlik my kleintoontjie kan verloor as ek so aangaan, moes ek stop,” sê hy ietwat verleë.
Daniels sê hier het sy kollegas wat saam met hom die laaste ent na die hospitaal toe sou stap, sy kruistog op hul skouers geneem en namens hom verder gestap. Hy het, met enkele kilometers oor voor die hospitaal, weer by hulle aangesluit.
“Die ontvangs by die hospitaal was iets om te beleef! Van die kinders by die hospitaal se ouers het by hulle aangesluit om ons te verwelkom. Die hospitaal se trust-voorsitter het my ook ingewag. Ek kon altesame R34 000 aan hulle oorhandig.”
Volgens hom is daar steeds kaartjies beskikbaar by sel 060 523 4786 en kan donasies vir die hospitaal steeds in die bankrekening inbetaal word (Brian Collin Daniels NPC; Absa tjekrekening nr 4105412162; takkode 632005). Daniels sê hy oorweeg om dié staptog ’n instelling te maak.
Dit sal altyd ’n buitengewone ervaring bly, sê Daniels. “Ek het baie wonderlike mense op my roete ontmoet; baie, baie wonderlike mense! Ek kan met trots en ’n geruste hart sê dat ek baie mense ontmoet het, besonderse mense wat my aangemoedig en bemoedig het.” (Deur Stefan Skapie Goosen)