SEWE taxi’s is verlede week by die taxistaanplek op Oudtshoorn geskut tydens Operasie Fiësta; ’n gesamentlike operasie van die Wes-Kaapse Kommersiële Ondersoekeenheid, Tuinroete Misdaadintelligensie, Oudtshoorn Misdaadvoorkomings- eenheid, Openbare Orde Polisiëring (POPS), Departement van Vervoer en die provinsiale verkeersdepartement.
Tydens dié operasie, wat op 20 September afgeskop het, is altesame 144 taxi’s geïnspekteer vir bedrieglike, duplikaat- en onwettige bedryfspermitte; 64 taxi’s op die eerste dag en 80 taxi’s die volgende dag.
Drie van die sewe taxi’s wat geskut is, was onpadwaardig en vier het nie geldige bedryfspermitte vir Oudtshoorn gehad nie asook slegs padwaardigheidsdokumente vir die Oos-Kaap.
Ses verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en korrupsie, asook ’n 33-jarige ongedokumenteerde man wat onwettig in die land is en ’n taxi sonder ’n geldige lisensie en bedryfspermit bestuur het.
Verkeersbeamptes het tydens die operasie boetes van R71 800 uitgereik vir verskeie verkeersoortredings en defekte aan voertuie.
Drie van die sewe verdagtes het verlede Donderdag (22 September) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn, terwyl die sake teen die ander vier tydelik teruggetrek is hangende verdere ondersoeke.
7 in hegtenis; R71 800 se boetes
’n Polisievoertuig versper verlede week die ingang na die taxistaanplek in Adderleystraat, Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen