Bewus van klagtes teen Nyuka, sê burgemeester

Mlandeli Nyuka, Oudtshoorn onderburgemeester. Foto: Hoorn argief

Luidens ‘n persverklaring wat Die Hoorn pas ontvang het, dra die kantoor van die burgemeester van die Groter Oudtshoorn kennis van klagtes wat teen die onderburgemeester, Mlandeli Nyuka,  ingedien is en wat deur die polisie ondersoek word.

In dié verklaring sê burgemeester Chris Macpherson egter die aard van gerugte en spekulasie op sosiale media oor die onderburgemeester en koalisievennoot Mlandeli Nyuka van Suid-Kaap Saamstaan is kommerwekkend “teen die agtergrond van onlangse pogings om die onderburgemeester om te koop”.

“Die omstandighede rondom die klagtes word tans deur die Polisie ondersoek, en daar moet nog vasgestel word of hierdie klagtes deel van ‘n poging is om die raadslid te diskrediteer en om hom uit sy posisie te verwyder.

Macpherson het bygevoeg dat wanneer klagtes teen enige raadslid ingedien word, daar ‘n wetlike proses is wat gevolg moet word, en dit toegelaat moet word om afgehandel te word alvorens die munisipaliteit reageer. “Die munisipaliteit gee sy volle en onvoorwaardelike samewerking ten opsigte van die wetlike proses. Die gemeenskap word versoek om die proses sy verloop te laat neem en nie te spekuleer nie.”  

Die Hoorn wag op inligting van die Polisie oor die aard van die klagtes wat ondersoek word.