Die jaarlikse Timbercity Cycle Tour vind vanjaar op 9 Oktober hier in Oudtshoorn plaas! Dit is die elfde keer dat hierdie fietsren op die dorp aangebied word.
Oudtshoorn sal gasheer speel vir ongeveer 1 000 mense wat die dorp sal besoek vir hierdie wedren. Bevestigde spanne van die Wes- en Oos-Kaap sal hier kom deelneem.
Die wedren dien ook as ‘n sogenaamde “seeding event” vir die bekende Cape Town Cycle Tour. Die organiseerder van die Cape Town Cycle Tour, David Belairs, gaan self op Oudtshoorn teenwoordig wees om die Timbercity fietsren te ondersteun.
Minister vandie Wes-Kaapse departement sport en kultuur, Anroux Marais, gaan ook die fietsren op Oudtshoorn bywoon, asook afgevaardigdes en nasionale keurders van Fietsry Suid-Afrika.
Inskrywings vir die Timbercity Fietsren is nog oop, en fietsryers kan tot Sondagoggend (9 Oktober), voor die wedren begin, inskryf. Inskrywings sal by Route 62 Bar & Grill in Baron van Reedestraat gedoen word.
“Ons nooi almal uit om te kom deelneem. Die publiek moet asseblief kennis neem van die tydelike sluiting van Baron Van Reedestraat vanaf 05:00 tot 13:00 vir die wedren en ons vra almal se geduld hiermee,” sê Sonja Schultz, Eden Fietsry administrateur.
Daar sal ook op die dag ‘n “gravel bike”-wedren plaasvind wat deur die Rotariërs van Oudtshoorn aangebied word. “Ons vra dat die gemeenskap hierdie wedren kom ondersteun. Die ystervrou van Oudtshoorn en voormalige SA XCM-kampioen, Yolande de Villiers, gaan ook aan hierdie wedren deelneem,” sê Schultz.
