Gasloos, kragloos en sneeu

Vir klein Jana (4) was dit haar eerste keer in die sneeu. Vir haar verjaarsdag wou sy graag in die sneeu ’n "Elsa" partytjie hou. Twee weke later het haar wens waar geword. Foto: Mignon Angelique Brits

Inwoners van die Klein Karoo bibber van die koue, met of sonder krag en gas, met oggende wat soms onder vriespunt begin, maar ten minste is die uitsig mooi.

DAAR is uiteindelik ordentlike sneeu op die Swartberge wat die Klein Karoo nou bederf met die mooiste wit kombers op die pieke, en nie net ’n sprinkel hier en daar nie.

Saam met hierdie skouspel, kom daar natuurlik yskoue weer, wat inwoners laat gryp na dikker baadjies, mussies, serpe en handskoene, maar ook die verwarmers en warmmaaktoestelle wat vir langer periodes gebruik word.

Een so ’n toestel is ’n gasverwarmer, en met Suid-Afrika wat al vir 16 jaar aan beurtkrag blootgestel word, het baie ander gewone huistoestelle in gastoestelle verander en is geïnstalleer, soos gas-geysers en gasstowe. Nie net spaar dit krag nie, maar sorg vir heerlike warm water vir koffie, tee of ’n warm bad na ’n koue dag.

In die winter, word die verbruiker se aanvraag na en gebruik van gas natuurlik groter, want dan word baie van die gasverwarmers uit die motorhuis gepluk, veral as dit so koud is soos nou.

Maar vir die wat dit nog nie beleef het nie, was gas die afgelope tyd maar skaars, en ’n kopseer in Oudtshoorn.

Die realiteit is dat alle gas dieselfde is, maar die bottel waarin jy dit koop, dit is waar die tameletjie lê.
Gaskanne soos Total-, Easy-, Handi- en Penguine Gas, om maar net ’n paar te noem is alles verskillende maatskappy wat gas voorsien.

Dit is beskikbaar by verskeie besighede op die dorp, maar jy kan nie die een gaskan vir ’n ander een ruil van ’n verskillende maatskappy nie.

Die Hoorn het met een maatskappy gesels wat graag anoniem wil bly wat gas verkoop.

“Dit is ’n skande dat gasmaatskappye wat ons voorsien, verbruikers laat rondharloop, opsoek na gas, net omdat die gasbottel nie hulle handelsmerk op het nie,” het hulle aan Die Hoorn vertel.

Sou jy dalk besluit om ’n ander bottel van ’n verskillende maatskappy te koop, gaan dit jou tussen R500 en selfs amper R800 uit die sak jaag, afhangende van die grootte.

Dit sluit natuurlik die deposito vir die gaskan, en gas binne-in die kan in.

Suid-Afrika, veral die Wes-Kaap ervaar tans gas tekorte. Dit spruit uit ’n dispuut tussen Vita Gas, ’n Duitse maatskappy wat gas na die land toe invoer, en die gas dan in Saldanhabaai aan die Weskus berg. Van daar word dit verder in die Wes-Kaap versprei.

In ’n brief vanaf VitaGas aan verskaffers op 15 Junie 2023, stel hul kliënte in kennis daarvan dat hul nie verder gas sal kan verskaf nie aangesien hulle nie meer oor die regte beskik om by die Sunrise Terminaal gas af te lewer nie.

Verdere gesprekke met besighede in Oudtshoorn wat gas verkoop, vertel dat meeste lang waglyste van kliënte het wat vir gas wag, omdat hulle ook sukkel om genoeg gas in die hande te kry.

Dié joernalis self het al meer as ’n week gesukkel om gas te koop vir die gasstoof by die huis, sover eet die hele huis net Airfryer kos, mits die krag natuurlik aan is. Asof die gasprobleem nie reeds groot genoeg is nie, het verskeie huishoudings en besighede, Dinsdag vir amper 11 ure sonder krag gesit. Vier daarvan was te danke aan beurtkrag wat om 08:00 begin het, en veronderstel was om 10:00 te eindig. Daarna was daar weer beurtkrag vanaf 16:00 tot 18:00. Een inwoner waarmee Die Hoorn gesels het, sê hul krag het eers net voor 19:00 vir die eerste keer vanaf die oggend aangekom.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit was daar ’n ernstige probleem met ’n 22KV-kabel wat gelas moes word. “Hierdie kabel het oor ’n tydperk van meer as 6 jaar verswak as gevolg van herhaalde aan- en afskakeling weens beurtkrag en oorvrag. Uiteindelik het die kabel gefaal en het dit gelei tot ‘n kragonderbreking”

Inwoners van Oudtshoorn word steeds versoek om alle toestelle wat baie krag trek, af te skakel voor beurtkrag begin en 10 minute te wag voor toestelle weer aangeskakel word na beurtkrag. Die gesing van kragopwekkers het die dag gevul, met die gevolg dat swaar wintermaande nou nog swaarder aan die bankbalanse gaan raak met die gebruik van meer petrol. Kragopwekkers is ook nie gemaak om vir ure aaneen krag te voorsien nie, en is dus ook nie ’n langtermynoplossing vir baie huise en besighede nie.

Ongelukkig is sonkrag nie vir almal bekostigbaar nie, en moet groot bedrae geld uitgehaal word om totaal van die “grid” af te gaan. Intussen sit Oudtshoorniete en bibber van die koue, met of sonder krag en gas, met oggende wat onder vriespunt begin, maar ten minste is die uitsig mooi. (Deur Angelique Erasmus)