Ankhe Muller (18), ’n matrikulant aan Langenhoven Gimnasium het vanjaar vir die eerste keer aan die uitdagende en gewilde Fauresmith Perde-uithourit, in die Vrystaat deel geneem. Nie net het sy die 205 km wat oor drie dae strek suksesvol voltooi nie, sy was ook die 9de liggewig ruiter oor die wenstreep met haar perd Saruk Maverick.
Hulle het die rit in ’n totale tyd van 09:37:26 voltooi met ’n gemiddelde spoed van 21,4 km per uur.
Daar het vanjaar 277 perde deelgeneem, en slegs 130 ruiters en hul perde het die rit suksesvol voltooi.
Afgesien daarvan dat dit elke jaar ongelooflik koud is op die Vrystaatse vlaktes, is dit ’n groot uitdaging om met dieselfde perd vir drie dae lang afstande af te lê.
Op die eerste dag voltooi die ruiter 75 km, die 2de dag 75 km en op die 3de dag ongeveer 54 km, wat dan ’n totaal van sowat 205 km gee.
Oudtshoorn se Lara en Nico-Meyer le Roux se perde het beide ongelukkig op die tweede dag uitgeval. Michael Vaaltyn, wat ook saam met die Le Roux sibbe ry het Fauresmith verlede jaar gewen, maar ongelukkig nie vanjaar deelgeneem nie.
Die rit is wel deur ’n ander broer en sister gewen, Gian Steyl (16) ’n jong kategorie ruiter, op sy perd Steyl Nightraven, en sy suster Marchane Steyl (19) in die liggewig kategorie, met haar perd Steyl 403.
Beide het die rit in 08:07 voltooi met ’n gemiddelde spoed van 25,3 km per uur. (Deur Angelique Erasmus)
Ankhe voltooi 205 km Fauresmithperderit
Ankhe Muller (18) links op die perd Saruk Maverick en Mabet Cilliers (30). Muller en Cilliers ry gereeld saam by ritte en kon weer so maak tydens die Fauresmith rit. Foto: Johanette Photography