Dubbele lewenslange vonnis vir verkragter

’N MAN van Beaufort-Wes wat erken het dat hy twee vroue verkrag het is Vrydag in die Oudtshoorn streekhof twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê asook vyf jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die 31-jarige Sindile April het Vrydag skuldig gepleit nadat hy aanvanklik onskuldig gepleit het op al drie klagtes. Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat sy geen wesenlike of dwingende omstandighede kon vind om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis vir verkrag-ting waartydens die slagoffers ook beserings opgedoen het nie.

Wat verswarend is, is die feit dat die beskuldigde tans ’n vonnis van tien jaar uitdien vir verkragting van ’n 20-jarige vrou, ’n misdaad wat hy voor 2017 gepleeg en waarvoor hy in Julie 2021 gevonnis is. April erken in sy pleitverduideliking dat hy op 25 November 2017 in Rustdene saam met die 36-jarige klaer na haar huis gestap het waar hulle saam gerook het.

Hy het haar toe later oorrompel, haar damesbroekie uitgetrek en sonder haar toestemming geslagsgemeenskap met haar gehad. Hy het ook erken dat sy beserings opgedoen het. In die tweede geval het hy op 26 Junie 2019 saam met die 27-jarige klaer van die “Easy by Night” Taverne na haar huis vergesel en saam gedrink het. Hulle het later nog biere gaan koop en verder saam gedrink.

Hy het haar later vasgegryp, ont-klee en verkrag lui sy verklaring.

Hy het op vrae van die landdros erken dat hy die erkennings uit vrye wil gemaak het en weet wat verkeerd en wat reg is.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het in sy argument gesê dit is duidelik dat April ’n reeks- verkragter is en een van sy slagoffers in ’n impakverslag vra dat hy uit die gemeenskap verwyder word om te verhoed dat nog vroue van Beaufort-Wes aanval en verkrag.

Goulding het die hof ook versoek om April se weergawes te verwerp en wel die getuienis van die twee slagoffers te aanvaar.

Sy pleitverduideliking verskil heeltemal van sy twee slagoffers se weergawes.

Die 36-jarige klaer het getuig dat sy die betrokke aand al geslaap het en wakker geskrik het toe sy ’n gewig op haar voel en April besig was om haar te verkrag. Hy was onbekend aan haar en het weggehardloop. Hy is eers ’n jaar en ’n half later in hegtenis geneem na die uitslae van sy DNS toetse.

Die verkragting van die 27-jarige vrou het plaasgevind nadat die beskuldigde saam met haar huis toe gestap het nadat hulle saam by ’n vriendin se huis was.

Hy het haar skielik vasgegryp, gewurg, haar kop teen die grond vasgedruk en haar verkrag. Sy het getuig dat sy nie verwag het dat die beskuldigde dit aan haar sal doen nie. Hy het weggehardloop nadat iemand haar geskree om hulp gehoor het.

Goulding het die hof gevra om April vir albei verkragtings lewenslank tronktoe te stuur.

“Die beskuldigde het regdeur volgehou dat hy onskuldig is en nie die slagoffers gespaar om weer deur die trauma te gaan om in die hof te kom getuig nie.

“Die feit dat hy teen die einde besluit het om skuldig te pleit met die verdoemende getuienis teen hom is nie ’n teken van ware berou nie. Hy het besef dat hy geen ander keuse het as om vandag sy weergawe te verander nie,” het Goulding gesê.

“Die verkragtings wys dat die beskuldigde ’n gevaar vir die gemeenskap van Beaufort-Wes inhou. Indien hy nie gearresteer was nie sou hy voortgegaan het met sy dade om vroue van Beaufort-Wes aan te val en die gemeenskap verwag dat mense soos hy lank uit die samelewing geneem moet word,” het Goulding afgesluit.

April se regshulpprokureur het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat April skuldig gepleit het en Streeklanddros Ntsoki Moni het April skuldig bevind soos hy gepleit het.

Die hof het gelas dat die lewenslange vonnisse nie samelopend met die vonnis van tien jaar wat April in Julie 2021 opgelê is, uitgedien kan word nie.

  • Die verkragting van die twee vroue waarvoor lewenslange gevangenisstraf opgelê is, het volgens die staat plaasgevind na die verkragting van ’n 20-jarige vrou by wie se huis April ingebreek het en waarvoor hy tot tien jaar tronkstraf gevonnis is. (Deur Garentt Wicomb)