Afrika verskyn weer vlugtig in die hof

Die 24-jarige Felicia Afrika wat van moord op die rugbyspeler, Boutros (Boelie) May (29) aangekla word en aan wie borgtog van R2 000 toegestaan is, het Dinsdag weer vlugtig in die hof verskyn.

Haar saak is deur landdros Stephanie Strydom tot 3 Augustus uitgestel na die mededeling van die staat dat nog twee verklarings uitstaande is.

Landdros Strydom het verlede maand borgtog aan Afrika toegestaan na haar bevinding dat geen bewyse voor die hof is dat die beskuldigde met getuies sal inmeng, hulle probeer intimideer, die regstelsel of borgtogstelsel sal belemmer of ’n geneigdheid het om misdaad te pleeg nie.

Sy is ’n eerste oortreder en het geen ander hangende sake teen haar nie.

Daar is ook geen bewyse voor die hof dat sy sal vlug en nie vir haar verhoor hof toe sal kom nie.

Voorts het die hof ook die “nuwe inligting” wat die staat voorgelê het, as irrelevant bevind en beklemtoon dat dit ’n Skedule 5 en nie ’n Skedule 6 borgtog-aansoek was.

Oor ’n bakleiery in die tronk waarby sy betrokke was sou dit volgens die landdros wys gewees het van die staat om ’n korrektiewe beampte daaroor te laat getuig.

Die hof het Dinsdag Afrika se borgtog en borgvoorwaardes tot haar volgende verskyning verleng.
Dit behels dat sy by haar pa moet tuisgaan en elke dag tussen 16:00 en 18:00 by die Bridgton Polisiestasie aanmeld.

Verder mag sy ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie, en haar weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol.

Sy moet ook alle hofdatums bywoon.

Die saak is vir die uitstaande verklarings en ’n streekhofbeslissing tot 3 Augustus uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)