Saak na 5 jaar teruggetrek

DIE saak teen ’n Calitzdorp man wat van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook handeldryf in dwelms aangekla word, is in die Oudtshoorn streekhof deur die staat teruggetrek. Die 42-jarige Dirk Matthee het tereg gestaan op twee klagtes van besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, 10 van besit van ammunisie, en handeldryf in dwelms, vir die besit van dagga ter waarde van R277 000 in 2018.

Die saak is op ’n keer van die hofrol verwyder, maar in Oktober verlede jaar weer teruggeplaas en Matthee is toe deur streeklanddros Ntsoki Moni meegedeel dat hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis kan word indien hy skuldig bevind sou word. Die klagtes is egter verlede week sonder die verskaffing van die redes deur die staat teruggetrek. (Deur Garentt Wicomb)