’n Merkwaardige hoofstuk in die Suid-Afrikaanse Boran-beesbedryf het onlangs tot ’n einde gekom. Die oudste Boran-koei ter wêreld, wat die uitsonderlike ouderdom van 22 jaar bereik het, het die tydelike met die ewige verwissel.
Die koei, bekend as KB5X, was deel van die Umoja Boran-stoet, wat besit word deur Radie Loubser van Oudtshoorn, maar het op die plaas Welkom naby Dewetsdorp in die Vrystaat geloop. Oor meer as twee dekades het sy nie net haar waarde in die kudde bewys nie, maar ook ’n blywende genetiese nalatenskap in die ras gelaat.
Volgens Loubser was KB5X oor jare heen ’n uitsonderlike dier. “Sy was soos ’n jong koei,” sê hy. “Selfs op ’n hoë ouderdom het sy steeds goed gelyk en haar werk gedoen soos enige ander dier in die kudde.”
In ’n bedryf waar die meeste produksiekoeie tipies tussen 10 en 15 jaar oud word voordat hulle uitgesit word, staan KB5X se leeftyd en prestasie uit as buitengewoon. Oor haar leeftyd het sy altesaam 69 kalwers gelewer – deur natuurlike teling sowel as embrio-oordrag – ’n prestasie wat haar status as stoetdier verder versterk.

“Dit is nie iets wat jy elke dag sien nie,” voeg Loubser by. “Haar genetika en aanpasbaarheid het haar besonders gemaak. Sy het oor jare konsekwent presteer.”
Boerdery lê diep in die Loubser-familie se are. Radie se broer, Braam, boer ook, terwyl hul oupa, Abrie de Vries, jare gelede op ’n plaas naby Vondelingstasie tussen Klaarstroom en Willowmore geboer het. Dié plaas moes egter verkoop word toe die broers nog te jonk was om die boerdery voort te sit.
Loubser se eie reis in die bedryf het in 2006 begin toe hy sy eerste bees gekoop het. Tien jaar later, in 2016, het hy die Umoja Boran-stoet gestig – ’n onderneming wat sedertdien gegroei het tot ’n gerespekteerde naam in die bedryf.
Die Boran-ras, oorspronklik van Oos-Afrika, is bekend vir sy gehardheid en vermoë om in uitdagende toestande te oorleef. KB5X is in Zambie gebore, en was deel van die eerste Zambiese Boran-beeste wat na Suid-Afrika ingevoer is. Hierdie groep is per vliegtuig van Zambië na Swaziland (nou bekend as Eswatini) gevlieg, en van daar na Suid-Afrika gebring.
Hoewel KB5X nie die oudste koei ooit aangeteken is nie, word haar ouderdom van 22 jaar as uitsonderlik beskou vir ’n werkende produksiedier. Haar invloed strek verder as net haar leeftyd – haar nageslag en genetiese bydrae sal nog lank in die Boran-bedryf voortleef.
Vir Loubser is haar dood nie net die verlies van ’n dier nie, maar die einde van ’n era. “Mens raak geheg aan sulke diere,” sê hy. “Sy het haar plek in die geskiedenis van die stoet en die ras verdien.”
In ’n tyd waar doeltreffendheid en prestasie dikwels die fokus is, dien KB5X se verhaal as ’n herinnering dat uitsonderlike diere steeds ’n onskatbare rol in die landboubedryf speel – nie net in produksie nie, maar ook in die genetiese toekoms van die bedryf. (ANGELIQUE ERASMUS)
Lees ook:
R22 miljoen se hulp beskikbaar vir boere
Boere onder druk: “Ons emosionele tassies raak swaar”
Veeboere en regering bots oor BKS-kontrole, hof gee sperdatum
Agri Wes-Kaap beklemtoon standvastigheid te midde van menigte uitdagings